Skokkende agterstand in operasies in die Vrystaat
Kritieke vrae oor provinsie se gesondheidsdienste gevra.

Sommige pasiënte moet vir lang tydperke in openbare hospitale bly sonder om mediese aandag te ontvang. Soms word pasiënte vir ‘n eenvoudige katarakchirurgie vir ‘n tydperk van meer as twaalf (12) maande bespreek, net om aangesê te word om huis toe te gaan en na nog twaalf (12) maande terug te keer as gevolg van ‘n tekort aan mediese personeel.
In die lig van die groeiende chirurgiese agterstande by gesondheidsorgfasiliteite in die Vrystaat, het die DA kritieke vrae aan die LUR vir Gesondheid gehad. Die party wou weet vir watter chirurgiese prosedures daar ‘n agterstand by elke fasiliteit is, wat die spesifieke agterstand per chirurgiese prosedure by elke fasiliteit is en hoe lank pasiënte wag vir operasies by elke fasiliteit.
Die party sê die reaksie wat deur die LUR verskaf is, is van groot kommer omdat dit wys hoe ver gesondheidsorgdienste agteruitgegaan het.
Die DA sê verder dat die veelgepubliseerde ANC Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) steeds ver van ‘n werklikheid is en blyk niks meer as ‘n onbereikbare droom te wees nie. As ‘n alternatief vir die NGV-skema, moet privaat gesondheidsorgkoste verlaag word terwyl ‘n minimum pakket van gesondheidsorgdienste gewaarborg word, is gesê.



