Skeie klap vir Rondomtalie kragmeting
Enigeen is welkom om Dinsdag of Donderdag om 16:00, wanneer klublede oefen, navraag te kom doen, of om te kom deelneem aan oefeninge. Jukskei is 'n spel vir oud en jonk, en selfs kinders is welkom om te kom saamspeel.
Mimosa klublede van Parys, die Kiewiete van Vereeniging, en Vanderbijlpark se Eike Klub het Donderdag in Parys met die rondomtalie-toernooi mekaar die stryd op die NG Wes-gemeente se jukskeibane aangesê.
Dié jukskei kompetisie is ‘n jaarlikse instelling met twee wedstryde wat in Parys gespeel word, twee in Vereeniging, en twee in Vaderbijlpark. Die toernooi strek van September tot Maart.
As gevolg van reën kon die Maart-wedstryde in Parys nie gespeel word nie, en is dit uitgestel na Mei.
Vir Donderdag se kompetisie het 10 spanne van die Mimosa, Eike en Kiewiet klubs ingeskryf.
Rondomtalie-wedstryde werk op die basis dat daar nie `n swak of sterk speler is wat noodwendig wen nie.
Spelers trek nommers voordat die wedstryde begin, en kan dit gebeur dat daar vier swak spelers, of vier sterk spelers, en ook gemengde spelers in `n span is.
“Dit is ook geen uitgemaakte saak dat ‘n sterk span altyd sal wen nie,” verduidelik Stefen Bruwer, Mimosa Klub se voorsitter.

Bruwer verduidelik dat elke individu se punte aan die einde van die dag bymekaar getel word, en op dié wyse word bepaal wie die wenner van die dag is.
Die volgende Rondomtalie is op 25 September in Vereeniging by die Kiewiete-klub.


Parysenaars wat wil deel word van die Mimosa Klub kan Erika Enslin (082 982 6579) of Stefan Bruwer (083 468 1184) kontak.
Enigeen is ook welkom om Dinsdag of Donderdag om 16:00, wanneer klublede oefen, navraag te kom doen, of om te kom deelneem aan oefeninge. As jy nog nooit die spel probeer het nie, is dit dalk nou die kans. Jukskei is ‘n spel vir oud en jonk, en selfs kinders is welkom om te kom saamspeel.






