Ontvoerde kind na drie weke gekry
Provinsiale kommissaris luitenant-generaal Baile Motswenyane, het lede van die ondersoekspan geloof vir hul onverpoosde toewyding en gesê dat dit 'n groot verligting vir die familie en die gemeenskap is dat die seun veilig gevind is.
Die 19-jarige Kamogelo Baukudi, ‘n graad 11-leerder van die Martie du Plessis-skool wat op 5 Junie in Bloemfontein deur twee mans ontvoer is wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, is in die vroeë oggendure in Wepener gevind na ‘n drie weke lange soektog
Brigadier Motantsi Makhele het bevestig dat vyf mans by ‘n huis in Kanana Location, Wepener gearresteer is, terwyl nog twee vasgetrek is waar hulle met Baukudi onderweg was tussen Kwetla Location en Wepener.
‘n Polisiesersant, Nzima Philemon Adoons is vroeër ook in verband met die ontvoering en afpersing aangekla.
Al ses sal Maandag weer voor die hof verskyn het Makhele gesê.
Baukudi is die dag van sy ontvoering oudergewoonte by sy skool opgelaai toe hy in Vereeniging-laan in Bloemfontein ontvoer is. Sy ontvoering het wye reaksie uitgelok en is ‘n multi-dissiplinêre span saamgeroep onder leiding van majoor-generaal Arthur Peter Adams, wat die intelligensie gedrewe soektog na Baukudi gekoördineer het.



