Local newsNews

So lyk die impak van werkverlies op gemeenskappe

“Wanneer duisende mense hul inkomste verloor, word die impak nie net ekonomies gemeet nie, dit word gemeet in die honger van ’n kind, die afwesigheid van mediese sorg, en die verlies aan hoop in die oë van ’n ouer wat nie weet wat môre gaan bring nie,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Onlangse statistiek van Statistieke Suid-Afrika oor werksverliese in die formele, nie-landbou sektor is kommerwekkend. In die tydperk van Maart 2024 tot Maart 2025 het Suid-Afrika 95 000 werksgeleenthede verloor. Hierdie verliese dui nie net op ’n brose arbeidsmark nie, maar wys op ’n toenemende maatskaplike
kwesbaarheid in gemeenskappe regoor die land.

Die handelsektor, wat tradisioneel as een van die grootste werkgewers dien, is die hardste getref
met ’n verlies van 52 000 poste. Die gemeenskapsdiensbedryf  wat dikwels as laaste toevlug vir
ongeskoolde of semi-geskoolde werkers dien, het 17 000 werksgeleenthede verloor.

Die situasie word vererger deur die 55 000 voltydse en 19 000 deeltydse poste wat in dieselfde periode verdwyn het. Die feit dat selfs deeltydse werk – dikwels ’n kritieke oorlewingstrategie vir baie gesinne – begin opdroog, beklemtoon hoe ernstig die werkkrisis is.

Jongmense, vroue en werkers met laer vaardighede sal waarskynlik die swaarste las dra.

Tussen donkerte is daar egter ook lig. Die konstruksiebedryf het 5 000 nuwe voltydse poste geskep
wat  daarop dui dat sekere sektore weer begin groei. Dit wys op die moontlikheid van herstel deur
vaardigheidsontwikkeling, projekte wat werklik werk skep, en strategiese belegging in mense.

“Die data is ontstellend, maar dit is nie die volle storie nie,” voeg Hannes Noëth, uitvoerende direkteur
van Solidariteit Helpende Hand by. “Ons het as land al voor groter krisisse gestaan, en telkens het gemeenskappe, besighede en burgerlike organisasies opgestaan en saam begin bou.

Solidariteit Helpende Hand bied op 18 Julie die Toekomsberaad in Centurion aan wat ’n platform bied waar kundiges, besluitnemers, gemeenskapsleiers en weldoeners saamwerk om oplossings te vind. Die fokus? Praktiese maniere om armoede hok te slaan, werk te skep, en waardigheid te herstel.

Armoede is nie ’n noodlot nie. Dit is ’n onreg wat ons deur hoop, samewerking en doelgerigte
optrede kan regstel., het Solidariteit Helpende Hand gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button