Nuwe hoop vir Koepel se peperduur interpretasie-sentrum
Sewentien jaar sedert aanvanklik met die bou van die Vredefort Interpretasie Sentrum begin is, het nie 'n enkele toeris nog hier kon baatvind by wat bedoel was as inligtingsentrum waar mense meer sou kon leer van die Koepel se wêrelderfeniswonder.
Sewentien jaar en meer as R55m later, is daar hoop dat die Vredefort Koepel Interpretasie Sentrum langs die R59 net buite Parys, dalk tog ‘n werklikheid kan word. Die Departement van Toerisme het Dinsdag by monde van sy hoof direkteur vir kommunikasie, Tasneem Carrim, gesê die sentrum behoort volgens die tydsraamwerk van die implementeringsagent teen 31 Desember vanjaar finaal voltooi te wees.
Die finale oorhandiging sal dan na raming op 31 Januarie 2026 gedoen word.
Carrim het egter daarop gewys dat die huidige konstruksietender slegs is vir die voltooiing van die gebou. Eers wanneer die gebou voltooi is, kan werk aan die uitstallings vir die sentrum begin, wat na verwagting ‘n verdere 24 maande kan duur om te voltooi.
Lede van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se senior bestuurspan, gelei deur die munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha, en vergesel deur Patricia Morokolo (direkteur tegniese dienste: Ngwathe-munisipaliteit), dr. Sive Dintsi (direkteur plaaslike ekonomiese ontwikkeling en beplanning: Ngwathe munisipaliteit), Mojabeng Makibinyane (direkteur gemeenskapsdienste: Ngwathe munisipaliteit) en Thabo Sothoane (raadslid vir Wyk 14), het verlede week die sentrum-terrein besoek om te kyk na vordering van die kontrakteur.

Geldelike probleme kniehalter vordering:
Nadat die projek in 2008 begin is, was dit in 2011 nog in aanbouing. Aanvanklik is met
R11,7m begin. Daarna het die projek vir jare tot stilstand gekom.
Onvoltooid – met die indruk wat gelaat is dat daar strukturele integriteit probleme was. Maar geldelike probleme was eintlik die klip in die skoen, en telkens is nog geld bewillig, en het nuwe kontrakteurs op die perseel gekom en gegaan sonder dat wesenlike vordering gemaak is om die projek te voltooi.
Teen April 2024 was daar steeds nie water, elektrisiteit of selfs riolering by die half-voltooide sentrum op die perseel nie, maar mooi planne vir uitstallings en ‘n ouditorium, kunsmark, amfiteater en kiosk.
Na bykans twee dekades was daar ook nog nie ‘n enkele toeris wat hier meer kon leer oor die geskiedkundige en geologiese waarde van die Vredefort Koepel nie.
Daar is egter geen twyfel dat die sentrum, ‘n enorme aanwins vir toerisme in Parys en
Vredefort, maar ook die Fezile Dabi streek en die Vrystaat provinsie kan wees nie, sou dit uiteindelik voltooi word, met die Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied wat wêreldwyd erken word as die grootste, oudste en duidelik sigbaarste meteoriet impakkrater ter wêreld.



