Die kruis rus swaar op sy skouer. Hy stap alleen. Waar Reini Coetzee gaan gee hy hoop. Bid hy vir ‘n land en sy mense. Vir verandering en die stukkend van mense – want op ‘n dag het die man van Galilea hom voorgekeer en gesê: “Ek het jou nodig.”
Dit is waarom Reini die Jerusalam-tog man-alleen stap vandat hy op 16 Maart sy kruis op Seinheuwel opgetel het. Sy eindbestemming – Jerusalem. ‘n Totaal van 17 000 kilometer deur nege lande waar hy die Woord verkondig.
Die kruis sal hy in Jerusalem agterlaat wanneer hy na raming na 18 tot 20 maande daar sal kom.
Elke dag stap hy 20-30km en hervat sy tog vanaf die merker waar hy gestop het, na die nag se rus.
Hy weet nie waar môre se slaapplek of kos vandaan sal kom nie. Ook nie wanneer presies hy sy eindbestemming sal bereik nie.
“Net die Here alleen weet wat lê vir my voor”, sê hy sag. Maar nie een dag het Reini Coetzee honger gaan slaap nie. Nie een dag was hy siek, of met blase aan sy voete nie.
Met nie een van die 1 270 kilometers wat op sy tekkiesole is, was hy aan sy lot oorgelaat nie.
Waar hy loop neem mense video’s en foto’s wat die woord soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei. So word vir hom voorsien in elke dorp of stad waar hy gaan met wat nodig is. Of dit energiestafies, sonblok, water, kos, tekkies, slaapplek, of gebed is.
By hom – sy rugsak met die nodigste, en die kruis. Niemand agter hom, of iemand wat die pad vooruit gaan nie. Ook nie borge of ‘n ondersteuningsvoertuig nie.
Net ‘n gebedslaer wat hy agterlaat en wat weer voorsien op die pad vorentoe. Mense wat elke dag vir hom bid en die kruisboodskap saam met hom dra.
“Ek het vrede waar ek hier sit dat ek dalk nie terugkom nie. Dalk is dit ‘n one way ticket,‘ sê Reini en vertel hoe die Here die staptog van Kaapstad na Jerusalem op sy hart gelê het. “Hy het my voorberei hiervoor – eers met ‘n stap van Kaapstad na Mezina in 2020, toe van Kaapstad na Windhoek in 2023.” Maar toe het hy nie alleen gestap nie.
In 2020 het hy by die dood omgedraai toe hy op die pad Covid gekry het. Drie maande se stap het vyf maande geword, maar Reini se pad was vir hom uitgelê.
Toe die Here dié keer die sending op sy hart kom lê het, het hy eers gevra dat die beker by hom sal verbygaan, erken hy, maar vandag weet hy hoekom hy moet gaan.
Ons leef in ‘n vaderlose land. Hyself ken die alleen-pad van ‘n afwesige vader. Op die jong ouderdom van 13 was drank sy toevlug. Daarna het dwelms gekom. Vir 25 jaar is hy gerehabiliteer. Hy het sy eie kruis gedra. Nou is hy in die bediening.

“Aan die begin het ek ook geskrik as ek die skok op mense se gesigte sien wanneer hulle hoor hoe ver ek gaan. Dwarsdeur Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië, Tanzanië, Kenia, Ethiopië, Sudan, Egipte, Israel met 1 paar tekkies wat omtrent ‘n duisend kilometer hou, en omtrent 26 316 treë wat nodig is om net 20km van sy reis te stap.
Maar jy sien die vrede in sy oë. Die vrede om deur seisoene en oor grense aan te hou stap – sy oë op die kruis “want in die kruis sit ek my geloof, my alles.”
“Vir mense is die kruis nog ‘n simbool van hoop”, sê hy, en herhaal die woorde van ‘n vrou wat voor hom op die somber, alleen pad deur die Karoo met sy eindelose Karoobossies, stilgehou het. Wat sy wou hê is gebed vir haar bejaarde man se blinde oë en hande sonder vingers. “Ek wag al lank vir jou,” sê sy. “Bid net vir hom.”
Reini het Vrydag in Parys aangekom en sal Sondag oor sy kruistog in die Dinamika-gemeente in Vredefort praat. Maandag praat hy met leerders by Parys Christelike Skool, en dan sal hy weer sy kruis opneem.
Jy kan Reini kontak by 071 522 1207 as jy met hom wil praat of hom ondersteun, of volg Crosswalk Africa op Facebook of Instagram.



