Local newsNews

R250 miljoen renosterhoring-skandaal; ses kry borg

Die saak is tot 9 Desember uitgestel vir verdere ondersoek.

Die ses beskuldigdes wat na bewering by ’n renosterhoring-smokkelsindikaat betrokke was, het vandag borgtog in die Pretoriase landdroshof gekry.

Die ses, John Frederick Hume (83), voormalige stigter en eienaar van die Platinum Rhino Conservation Enterprise; Clive John Mervan Melville (63), ‘n vervoerinstandhoudingsbestuurder, Izak Hermanus Du Toit (50), ‘n praktiserende prokureur, Elizabeth Catharina Van Niekerk (58), direkteur van ’n nie-winsgewende organisasie, Mattheus Hendrikus Wessels Poggenpoel (37), ‘n versekeringsmakelaar en deeltydse boer, en Johannes Abraham Hennop (52), wildreservaatbestuurder, staan gesamentlik tereg op 55 klagte, insluitend veelvuldige aanklagte van georganiseerde misdaad (racketeering), bedrog, oortreding van die Nasionale Omgewingsbestuurs-Biodiversiteitswet (NOMBA), oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste, diefstal en geldwassery.

Hume is R100 000 borgtog toegestaan, Melville en Van Niekerk elk R10 000, terwyl Du Toit, Poggenpoel en Hennop elk R20 000 borgtog gekry het.

Daar word beweer dat die beskuldigdes tussen 2017 en 2024 ’n internasionale renosterhoring-smokkelsindikaat bedryf het, en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing (DBVO) bedrieg het. Hulle het glo permitte bekom om horings plaaslik te verhandel, maar was na bewering van meet af van plan om die horings na onwettige internasionale markte in Suidoos-Asië te kanaliseer.

Die bedrieglike skema het glo sowat 964 horings behels, met ’n beraamde waarde van R250 miljoen, het Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Gautengse afdeling van die Nasionale Vervolgingsgesag bevestig.

 Na intensiewe ondersoeke deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) se Afdeling vir Wildsmokkelary, het die ses beskuldigdes hulself vandag  by die Pretoria-Sentrale Polisiekantoor oorgegee, waar hulle formeel in hegtenis geneem is.

Tydens die borgtogaansoek het al die beskuldigdes versoek om op borgtog vrygelaat te word, en aangevoer dat hulle nie vlugrisiko’s is nie, en dat hulle met die ondersoek saamgewerk het.

In sy beëdigde verklaring het Melville aan die hof bekend gemaak dat hy in 2019 skuldig bevind is aan bedrog, en besit en vervoer van renosterhorings, waarvoor hy ’n boete opgelê is.

Poggenpoel, het ook erken dat hy in 2009 ’n vorige skuldigbevinding het vir die besit van ’n renosterhoring, waarvoor hy ’n skulderkenningsboete van R2 500 betaal het. Poggenpoel het verder bekend gemaak dat hy ’n saak hangende teen hom het wat op 17 September  in die Landdroshof te Winburg aangehoor sal word, nadat ammunisie wat nie behoorlik in ’n kluis gestoor was nie, en sogenaamde geskeduleerde medikasie sonder ’n permit by sy woning gevind is.

Advokaat Patsy Jacobs, namens die staat, het ’n beëdigde verklaring van die ondersoekbeampte, Edward Du Plessis, aan die hof voorgelees, waarin bevestig is dat die staat nie borgtog teengestaan het nie aangesien die beskuldigdes nie vlugrisiko’s is nie, hul adresse bevestig is en hulle met die ondersoekbeamptes saamgewerk het. Die staat het egter borgvoorwaardes versoek.

Die hof het borgtog toegestaan onderhewig aan verskeie voorwaardes. Dit sluit onder meer in dat al die beskuldigdes hul paspoorte moet inhandig en nie vir nuwe reisdokumente sal kan aansoek doen terwyl die saak nog nie afgehandel is nie. Hulle moet een keer per week by hul naaste polisiekantoor aanmeld, en mag nie met die ondersoek inmeng, bewyse manipuleer of getuies beïnvloed nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button