‘n Tjoppie is nie net ‘n tjoppie nie
Rekordboeke is die afgelope naweek in Parys herskryf by Lamb Champs Parys.
Die hoogste prys wat die afgelope paar jaar vir ‘n lamkarkas by enige geleentheid of veiling betaal is, is die afgelope naweek in Parys betaal by die Lamb Champs veiling, aangebied deur BKB. Hennie Jonker van Zorro Hampshire Downs het R30 000 behaal vir sy lamkarkas. Henning Pretorius van Losberg Lodge, tussen Parys en Fochville was die koper.

Die wêreldrekord prys vir ‘n lamkarkas word deur die Royal skou gehou vir ‘n karkas wat vir R63 000 verkoop is.
“Ek doen wat ek vandag gedoen het vir die bevordering van wat Saai, Lamb Champs, en almal betrokke doen vir boere, die verskillende skaaprasse, en bewusmaking dat ‘n tjoppie nie net ‘n tjoppie is nie, maar passie, opoffering, familie en liefde,” was Henning se kommentaar nadat die bod op hom toegeslaan is.
Die lam is bestem vir ‘n spesiale funksie wat reg sal laat geskied aan die prys, sê hy, en voeg by dat hy graag in die gemeenskap van Parys terugploeg met die hoop dat Parys weer in die toekoms dié geleentheid sal kry wat ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp was.
Die R30 000 prys was geen verrassing in die lig daarvan dat Hennie se Hampshire Downs skoonskip gemaak het tydens die Alle Ras Skou in Parys. Nie net was sy lamkarkas van 25,2kg (wat ‘n uitslag persentasie van 50% verteenwoordig) die raswenner van die Hampshire ras, en interras wenner tydens die die TAU Voere karkaskompetisie nie, maar het Hennie ook met ‘n ander karkas op die spit, meer as 40 ander telers uitgestof om die Lamb Champs Parys te wen.
Huntersvlei Abattoir in Viljoenskroon het al die karkasse vir die geleentheid geslag en die karkas kompetisie is deur SAMIC beoordeel.
Volgens van die beoordelaars, Ane Wait, Johan Knipe en Vincent de Villiers, is met die beoordeling onder meer gekyk na voorkoms van lammers, gewig, vleis tot vet verhouding, smaak en sagtheid. En smaaklik was die vleis op die 35 spitte wat die dag op ‘n ry reggestaan het, beslis.
In sy hoedanigheid as Parys Lamb Champs kampioen, waarvoor Hennie ‘n prysgeld van R40 000 ontvang het, kwalifiseer hy ook vir die nasionale Lamb Champs kampioenskap wat tydens NAMPO/ALFA aangebied word, en waar hy teen die wenners van die ander drie Lamb Champs geleenthede gaan deelneem.
Die nasionale geleentheid word gehou van 16-18 Oktober op Nampo Park. Besoekers sal dan die geleentheid kry om die vier wenners van die onderskeie Lamb Champ geleenthede te ontmoet, en hul diere op die spit te proe waarna die nasionale kampioen aangewys sal word.
Hennie, wat ‘n bekende presteerder by Lamb Champs asook verskillende karkaskompetisies was oor die afgelope paar jaar, was baie emosioneel ná sy groot dag.

Dit is in lyn met die Jabus-gebed wat hy en Lize-Marie se gesin, boerdery en lewe rig. “Die Here het werklik ons as gesin se grondgebied vergroot,” was sy kommentaar.

Streke het hul eie unieke verhale
“Elke streek bring sy eie unieke verhaal na Lamb Champs. Dit gaan nie net oor boere se kans om mee te ding nie, maar ook oor die skep van bande met verbruikers in hul eie gemeenskappe.”

Dit is hierdie unieke samekoms tussen verbruiker en produsent waarna Saai se uitvoerende hoof, Francois Rossouw verwys het, wat Saterdag in Parys gesien is toe nagenoeg 2 000 mense die onderdak arena by die AfriDome in Parys volgepak het vir die groot feestelikheid.
Met Pick n Pay as hoofborg, Toyota as ry-borg en Old Mutual as kategorie-borg, is familieboerdery, kwaliteit lamsvleis en ware Suid-Afrikaanse erfenis die dag gevier.


Boere uit vier provinsies het deelgeneem waarvan die Vrystaat die grootste groep met 26 inskrywings gelewer het.
Die inskrywings het Suid-Afrika se ryke genetiese diversiteit en boerderytradisies vertoon, wat beide tradisie en innovasie in lamsproduksie beklemtoon het.
Die Boere Orkes, Henru & Schwabie, Dassie en die Bitterlekker Musas, het feesgangers aan die beweeg gehad, terwyl die gewilde lewende lamsveiling en skaapkop-eet kompetisie hoogtepunte op die dag se program was.
En die man wat gewys het hy kan ‘n skaapkop in minute verslind, was Doeks Scholtz van Bethlehem.






