Local newsNews

Oom Paul kuier in Vereeniging voor sy Vrystaatse draai in Parys

Die beeld staan saam met sy voetstuk 10m hoog en sal mense die beeld op die pad sien totdat dit uiteindelik sy eindbestemming in Orania bereik.

‘n Presiese replika van die Paul Kruger-standbeeld wat op Kerkplein in Pretoria staan, is vanoggend in Vereeniging gesien voordat die beeld later vanmiddag op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys sal aankom vir ‘n luisterryke program wat vanaand vanaf 18:00 op Udolpho aangebied word.

Die Kruger 200-toer doen op verskeie dorpe aan onderweg na Orania waar dit ‘n tuiste op die dorpsplein sal vind. Die beeld sal dan op 10 Oktober, op Kruger se 200ste verjaardag in Orania onthul word.

Die Kruger-beeld replika. Foto; Chilli PicNic.

Daar is op Erfenisdag, 24 September, vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria vertrek, met die beeld wat met sy voetstuk bygereken, 10 meter hoog staan en 1,5 ton weeg.

Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder van die FAK, sê die  nuwe Kruger-standbeeld wat soos die ware Jakob lyk, is deur beeldhouer Jacques Müller gemaak, nadat die oorspronklike beeld in 3D afgeneem en gedruk is, waarna dit in brons gegiet is.

Die beeld is ‘n presiese replika van die Paul Kruger-beeld op Kerkplein in Pretoria. Foto: Chilli PicNic

Inwoners van die dorpe waar die beeld aandoen sal deel kan hê in die feesvieringe, waaronderdie opvoering van die NP van Wyk Louw-toneelstuk, ”Kruger breek die pad oop”. Die toneelstuk  handel oor die lewe van Kruger en die harde besluite wat hy moes neem.

Daar is sedert uit Pretoria vertrek is, reeds in Rustenburg, Potchefstroom, Krugersdorp en Heidelberg aangedoen, voordat daar vandag ‘n draai gemaak is in Vereeniging.

In Krugersdorp is die reisende standbeeld langs Paul Kruger se standbeeld in Pretoriuspark in Paardekraalweg staangemaak. Die standbeeld in Krugersdorp beeld ’n jong Paul Kruger uit wat regop met sy hoed in sy hand staan. In sy ander hand hou hy ’n Bybel vas, wat sy geloofsbasis en -sekerheid uitbeeld, het die FAK in ‘n verklaring gesê.

In Vereeniging is gestop op die Vredesonderhandelingsterrein asook by die Vryheidsmonument.

Die foto is vanoggend in Vereeniging geneem met die Kruger-toer se besoek daar. Foto: Krugerbeeld in Vereeniging WhatsApp-groep.
‘n Toekenning is vanoggend ook aan Gys en Kobie Ströh oorhandig vir hul besondere bydrae tot die Kruger 200-toer as deel van die Vaal Kultuurnetwerk. Foto: Chilli PicNic.

Met vanaand se program op Udolpho sal die Deo Gloria-koor gehoor kan word, en sal die NP van Wyk Louw-toneelstuk ook gesien kan word. Die program sluit af om 20:00.

Die Kruger feesprojek is aangepak deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), tewyl die Orania Kunsteraad (OKeR) vir die toneelopvoering verantwoordelik is.

Indien jy graag meer wil lees oor die Krugerbeeld wat sy tuiste op Orania vind, volg die skakel  Ewebeeld van Krugermonument in Orania – FAK

Die roete wat die Kruger 200-toer sal volg

Mense wat meer inligting wil hê oor die Udolpho-program kan vir Cara by 072 439 2593 of cara@kultuurtuiste.org.za kontak of  Jan-Danie Malan by Udolpho by 082 965 7002.

Mense kan hul naam verewig op die nuwe plein waar die Kruger-standbeeld ’n tuiste sal kry deur ’n simboliese steen te koop. Gaan na  https://www.orania.co.za/paul-kruger vir meer inligting.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button