
’n Vragmotor wat diesel vervoer het, is Maandagoggend omstreeks 07:00 verlate op die Modderdampad net buite Potchefstroom gevind.
Die vragmotor is glo omstreeks 02:00 dieselfde oggend in Vanderbijlpark gekaap. Nadat dit by die polisie aangemeld is, is die vragmotor met die hulp van ’n opsporingstelsel gevolg tot waar die voertuig op die Modderdampad gevind is.
Met die polisie se aankoms was die vragmotor verlate en al die diesel in die tenk was uitgetap. Die saak word deur die polisie in Vanderbijlpark ondersoek. Die Herald is aanvanklik deur die polisie op die toneel belet om foto’s te neem, omdat dit glo “die neem van vingerafdrukke sou belemmer”.



