Local newsNews

Dapper klein vegtertjie nou Graad R-woelwater

Klein JJ Meintjies het vyf jaar gelede al sy eerste ope-hartoperasie ondergaan.

Soos ander seuntjies van sy ouderdom is die vyfjarige JJ Meintjies ‘n besige knapie wat saam met sy graad R-maats verlede week die eerste keer skool toe is. Wanneer hy sy armpies spontaan uitsteek vir ‘n drukkie en wys na die lang sny op sy bors, besef jy egter dat dié tenger lyfie al meermale in ‘n hospitaalbed was as ander kinders van sy ouderdom.

Verlede week was dit vyf jaar sedert JJ sy eerste ope-hartoperasie ondergaan het, en moet besluit word oor sy volgende operasie om ‘n groter stent in te sit wanneer hy Maandag die hartspesialis moet sien.

Vir ‘n naald is hy baie bang maar vir ‘n hospitaal het hy geen vrees nie, vertel mamma Roché oor haar jongste. Die trane lê vlak as sy en oupa Koos en ouma Joy Opperman gesels oor die pad wat hulle die afgelope vyf jaar saam met hul dapper vegtertjie geloop het.

JJ is op 13 Mei 2020 in die Parys-hospitaal gebore en moes Roché en haar ouers vir die eerste twee jaar van sy lewe telkens langs sy hospitaalbed sit toe vasgestel is dat klein JJ met ‘n hartdefek gebore is.

Met geboorte is hy aanvanklik vir vyf dae gehospitaliseer weens longontsteking. Daarna was hy skaars vier dae by die huis, toe ‘n ernstig siek JJ weer in die hospitaal opgeneem is. Min het sy ouers geweet watter lang pad vir hul pragtige babaseuntjie sou voorlê.

Dié keer is hy op suurstof gesit en oorgeplaas na die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad waar vasgestel is dat sy aorta vernou is, en dat daar ‘n gaatjie tussen sy hartkamers is.

Op 12 Junie 2020, skaars ‘n maand oud, is hy in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein geopereer.

Die operasie het goed afgeloop, maar in Augustus 2020 is JJ terug dokter toe, en het sy ouers die nuus gekry dat nog ‘n hartprosedure nodig sou wees om ‘n stent in te sit. Einde November 2020 het JJ weer baie siek geword. Dié keer was ‘n dringende ope-hartoperasie nodig om die gaatjie tussen sy hartkamers te herstel wat groter geword het.

Voordat die operasie egter gedoen kon word, het JJ net al sieker en swakker geword, en was hy op ‘n ventilator in die intensiewe sorgeenheid.

Dokters het toe vasgestel dat hy die maagvirus, Clostridium Dificile, opgedoen het. Net voor nuwejaar 2021 kon JJ uiteindelik van die ventilator afgehaal word, en na ‘n gewone saal geskuif word. Sy ope-hartoperasie was geskeduleer vir 15 Januarie 2021.Voordat hy die oggend in die teater ingestoot is, het die verpletterende nuus gekom – daar was weer komplikasies weens pulmonêre hipertensie wat sy lewe in gevaar kon stel as hy geopereer word. Uiteindelik is die operasie tog gedoen, en het hy moedig geveg en herstel.
Roché en die seuns, JJ en Keagan (9) het in 2023 na Parys verhuis. Vandat hulle die dorp hul tuiste gemaak het, is hulle met goedheid en liefde van mense oorlaai.

By die skool is hulle gelukkig en nie JJ se hartdefek of sy misvormde handjie weens Symbrachydactyly, kan hom terughou nie, vertel Roché.

“Ek piep hom nie op nie, en selfs in die water swem hy soos ‘n vissie.”

‘n Klein wonderwerkie wat kan getuig van genade en kanse, al lê nog baie doktersbesoeke voor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button