‘n 56-Jarige sekuriteitswag, Zakaria Sekgoane Tamane is gister in die Sasolburgse streekhof gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf vir die diefstal van koperkabels uit ‘n pakhuis in Sasolburg, nadat hy vroeër reeds skuldig gepleit het op ‘n aanklag van sameswering vir roof met verswarende omstandighede.
Die vonnis volg op ‘n voorval in November 2024 toe twee sekuriteitswagte wat aan diens was by die ERD-pakhuis in die Naledi-nywerheidsgebied, deur sewe verdagtes met klapmusse aangeval is. Die wagte is met kabels vasgebind en in ’n stoorkamer toegesluit terwyl die verdagtes met ’n vragmotor in die pakhuis in is en drie dromme koperkabel ter waarde van ongeveer R1,9 miljoen gesteel het.
Die pakhuis is met verskeie sekuriteitskameras toegerus, wat die polisie kon help met die ondersoek.
As deel van die ondersoek is poligraaftoetse ook op al die sekuriteitswagte uitgevoer wat aan diens was. Een wag het die toets gedruip en daarna ’n skriftelike bekentenis afgelê. Die wag het later versuim om weer vir diens aan te meld.
Na ’n intensiewe ondersoek deur die Valke se Eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoeke in Welkom, is Tamane op 19 November 2024 in hegtenis geneem.
Die Provinsiale Hoof van die Valke in die Vrystaat, Majoor-generaal Mokgadi Bokaba, het die vonnisoplegging verwelkom. Sy het weer die Valke se verbintenis tot die bekamping van georganiseerde misdaad beklemtoon, veral misdade wat ekonomiese infrastruktuur en veiligheid bedreig.
Ondersoeke na ander verdagtes wat by die saak betrokke is, duur voort, het Valke-woordvoerder adjudant-offisier Fikiswa Matoti gesê.