Vrystaatse pa gearresteer nadat seuntjie (6) se liggaam onder bed gekry is
Die pa verskyn môre voor die hof op 'n klag van moord.
Die polisie in Fouriesburg het ’n 28-jarige man van Mashaeng naby Fouriesburg in hegtenis geneem ná die tragiese ontdekking van die liggaam van sy sesjarige biologiese seun, wat onder ’n bed versteek gevind is.
Die kind is laas deur sy ouma gesien op 29 Januarie.
Volgens adjudant-offisier Mmako Mophiring word beweer dat die pa die kind daardie dag met ’n houtstok aangerand het in die teenwoordigheid van die ouma. Dit was die laaste keer dat die ouma die seuntjie gesien het.
Op 1 Februarie omstreeks 10:40, het ’n gemeenskapslid die verdagte se woning binnegegaan en opgemerk dat dit baie donker en deurmekaar in een van die slaapkamers is. Klere was in die vertrek rondgestrooi, wat agterdog gewek het. Nadat ’n selfoonlig onder die bed ingeskyn is, het die gemeenskapslid die skokkende ontdekking van die kind se liggaam gemaak.
Die polisie en Noodmediese Dienste is onmiddellik na die toneel ontbied, waar die kind dood verklaar is. Sigbare kneusplekke is op die liggaam opgemerk.
Die verdagte is in hegtenis geneem en sal na verwagting môre in die Fouriesburg-landdroshof verskyn op ’n klag van moord het Mophiring gesê.



