Local newsNews

AfriForum gaan onafhanklike ondersoek laat doen ná dood van 9-jarige

Die Nala munisipaliteit is tans onder Artikel 139(1)(b)-finansiële ingryping.

 

AfriForum se Bothaville-tak en -buurtwag gaan ’n onafhanklike ondersoek van stapel stuur na die omstandighede wat gelei het tot die dood van ‘n  9-jarige seuntjie van Bothaville.

Chris Foord is op 7 Februarie doodgeskok ná hy na bewering aan ’n ankerdraad van ’n elektriese paal in dié dorp geraak het. Chris was ‘n leerder van die Loskuil-plaasskool buite Bothaville.

Luidens ’n verslag van die Gekose Komitee oor Samewerkende Regering en Openbare Administrasie se besoek aan die munisipaliteit wat in Oktober verlede jaar vrygestel is, ondervind die Nala-munisipaliteit ernstige probleme met onder meer kragvoorsiening en infrastruktuurinstandhouding.

Gereelde kragonderbrekings en ’n vertraging in die herstel van verwante foute, wat soms tot ses dae kan neem om herstel te word, is as probleme in die munisipaliteit uitgewys. Die omvang van agteruitgang in die munisipaliteit is boonop so ernstig dat die komitee aangevoer het dat dit “van mening is dat die stand van dienslewering in die Nala Plaaslike Munisipaliteit die menseregte van die gemeenskap skend.

Die DA in die Nala Plaaslike Munisipaliteit het vroeër ook in ‘n verklaring gesê die party eis antwoorde van die  LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake oor die veiligheid van elektriese infrastruktuur in dié munisipaliteit na die tragiese voorval.

Die Nala munisipaliteit is tans onder Artikel 139(1)(b)-finansiële ingryping.

Die DA sou verder ook aan die Premier van die Vrystaat skryf oor die oënskynlike versuim van die Artikel 139-ingryping en die aangestelde administrateur om skade te voorkom en wettige bestuur te herstel.

Daar sou ook ‘n formele versoek aan die Openbare Beskermer gerig word vir ‘n ondersoek na die voorval.

Bevindings oor aanspreeklikheid of verantwoordelikheid kan eers gemaak word sodra ‘n onafhanklike ondersoek gedoen is.

Die DA sê hy is bekommerd oor die toestand van elektriese infrastruktuur in die Nala munisipaliteit. Foto: Verskaf
Die DA sê hy is bekommerd oor die toestand van elektriese infrastruktuur in die Nala munisipaliteit. Foto’s: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button