Local newsNews

Worshond in erf aangeval, verskeur

Wat is jou verantwoordelikheid en aanspreeklikheid as honde-eienaaar?

‘n Gesin van Parys se agt jaar oue worshond is op Valentynsdag deur twee Bulterriërs wat uit hul erf gekom het verskeur nadat dié honde die worshond in sy omheinde erf deur die hek gebyt het. Die gesin se Labrador is ook tydens die aanval beseer.

Die voorval het in Oudewerfpark gebeur, en is die hulp van die polisie, Parys Sekuriteit en die plaaslike DBV ontbied, wat bevestig het dat nog twee honde in die straat ook deur die Bulterriërs gebyt is.

Die worshond reun, Whiskey, se beserings was so ernstig dat daar geen ander uitweg as genadedood was nie. Die traumatiese aanval het voor die oë van Whiskey se eienaar gebeur, wat vir die naweek by haar ouers, by wie Whiskey bly, kom kuier het.

Later dieselfde dag is die DBV se hulp ook gevra toe ‘n Jack Russel ‘n 60/60 afleweringsbode op sy motorfiets bestorm het.

Die voorvalle het weer die kwessie van die verantwoordelikheid en aanspreeklikheid van honde-eienaars onder die vergrootglas geplaas. Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing kan honde-eienaars aanspreeklik gehou word deur ‘n kriminele klag of siviele eis vir die skade/beserings veroorsaak wanneer ‘n hond uit ‘n erf sou kom, en mense of ander diere sou aanval.

Whiskey, die 8 jaar oue worshondjie wat nie die aanval oorleef het nie.
Whiskey, die 8 jaar oue worshondjie wat nie die aanval oorleef het nie

Die ou Romeinse regsbeginsel actio de pauperie, is hier ter sprake, selfs sonder bewys van nalatigheid. Dit is gebaseer op die grondbeginsel dat ‘n minimum standaard van goeie gedrag van huisdiere verwag word. Volgens die regsbeginsel is die eienaar van die hond streng aanspreeklik vir die hond se gedrag, sê prokureur, Stefan Scheepers.

Actio de pauperie maak voorsiening daarvoor dat die eienaar dus vir die skade moet vergoed byvoorbeeld die mediese of veeartskostes, waar die slagoffer wettiglik op die plek was waar die hond hom gebyt het (dit geld ook op sypaadjies of in die straat), nie die hond uitgelok het nie, of self deur nalatige gedrag bygedra het tot sy eie beserings nie. Die Wysigingswet op Diere-aangeleenthede is ook toepaslik, en word volgens die wet vereis dat honde-eienaars alle redelike maatreëls moet tref om hul honde binne die erf te hou, sê Scheepers.

Suksesvolle vervolging in geval van ‘n kriminele klag kan lei tot ‘n boete of selfs gevangenisstraf. In sommige gevalle kan die hof ook beveel dat die honde van kant gemaak moet word, of die honde-eienaar verbied word om weer honde aan te hou.

Munisipale bywette plaas gewoonlik ‘n verpligting op honde-eienaars in terme van omheining van erwe. Die belangrikste om te onthou is dat diere se gedrag nie voorspelbaar is nie, en dat selfs al sou jy jou hond as goedgeaard en skadeloos beskou, dit ‘n potensiële gevaar vir ander inhou, sou die dier buite jou erf wees.

In 2022 is prof. Riaan Rheeder, hoogleraar aan die fakulteit teologie aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus in die gesig en aan die been gebyt deur ‘n pittbull en ‘n bulterriër wat buite hul erf was, toe hy die oggend gaan draf het. Rheeder het na die aanval ‘n klag by die polisie gaan lê.

Die honde se eienaar is aangekla van nalagtigheid ingevolge die Wysigingswet op Diere-aangeleenthede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button