Voormalige Steinhoff-groep ouditbestuurder gevonnis
Die ondersoek en vervolging van die saak het uitgebreide samewerking en tegniese kundigheid vereis weens die omvang en kompleksiteit daarvan.
Die Pretoriase Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof het die voormalige Steinhoff-groep oudithoof, Hein Odendaal (67), gevonnis tot vier jaar direkte gevangenisstraf of ’n boete van R2 miljoen. Hy is verder tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie gedurende die opskortingstydperk skuldig bevind word aan ’n oortreding van artikel 34(1) van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite (PRECCA) nie, en dat hy hom onderwerp aan een jaar korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet, 51 van 1977.
Volgens Lumka Mahanjana, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is Odendaal skuldig bevind en gevonnis nadat hy ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het ingevolge artikel 105A van die Strafproseswet.
In sy hoedanigheid as groepsoudithoof het die hof bevind dat Odendaal nalatig was deurdat hy moes vermoed het dat ander werknemers binne die Steinhoff-groep bedrog gepleeg het, maar dit nie by die polisie aangemeld nie.
Op 21 November 2016 het Iwan Peter Schelbert, op instruksie van die destydse hoof finansiële beampte, Andries Benjamin La Grange, ’n bedrieglike faktuur aan TG Sources SARL, ’n maatskappy in Martigny, Switserland, gegenereer. Ná die uitreiking van die faktuur het Stephanus Johannes Grobler en ander persone ondersteunende dokumentasie geskep en betalings laat maak om valslik voor te gee dat die faktuur ’n wettige transaksie tussen Steinhoff at Work en TG Sources SARL verteenwoordig. Hierdie bedrieglike skema het gelei tot die opblaas van Steinhoff se finansiële state met meer as R376 miljoen.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het die skuldigbevinding en vonnis verwelkom, wat die vierde skuldigbevinding in die Steinhoff-saak is.
Daar is beklemtoon dat die NVG hierdie tipe sake baie ernstig opneem. Verder is gesê dat elke saak volgens sy meriete hanteer word en dat pleitooreenkomste nie die erns van hierdie oortredings verminder nie.
Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (NDOV), advokaat Andy Mothibi, het gesê:
“Hierdie uitkomste moet aan die publiek wys dat die NVG sal voortgaan om alle sake – in die openbare sowel as die private sektor – sonder vrees, guns of vooroordeel te vervolg.”
Die saak teen die oorblywende beskuldigde, Stephanus Johannes Grobler (64), is uitgestel tot 14 Mei.



