Op die spoor van ‘n droër vleiland-voetpad
Baie is reeds gedoen om die vleiland in 'n park tot voordeel van die hele gemeenskap te omskep danksy die geldelike steun van Sasol en Damlaagte Solar.
Die Parys Working on Fire-span en lede van die Parys Vleiland Park-komitee het die afgelope week oorlog verklaar teen indringerplante langs die spoorlyn in die dorp se vleilandgebied.



Die 1,4km spoorlyn wat deur dié gebied loop is al vir jare in onbruik, en is begin om dit te omskep in ‘n toeganklike en droë voetpad vir die sowat 600 mense wat daagliks deur hierdie gebied loop.
Die vleiland-gebied is ‘n belangrike deurgangsroete tussen gemeenskappe om by hul bestemmings te kom.

Gruis wat vir ‘n lang tydperk langs die spoorlyn gelê het, is gebruik om die spoorlyn op te vul, en sal verdere opvulling ook gedoen word.
Die eerste 140m van die spoorlyn is opgevul, en is daar met mening Dinsdagoggend skoongesny en ontbos.

Die werk wat gedoen is, danksy die geldelike steun van Sasol en Damlaagte Solar, sal ‘n groot
verskil maak in die vleiland wat deesdae ook baie gewild is vir sy stap-, landloop-, en bergfietsroetes
wat geskep is.
Die samewerking van die gemeenskap is egter baie belangrik om rommelstrooiing in die vleiland-gebied stop te sit wat bygedra het tot die agteruitgang van die vleiland-gebied oor jare.



