Polisieduikers geloof vir dapperheid ná voertuig by Vaaldam gekry word
Daar word vermoed dat die voertuig wat gevind is verbind kan word met die ondersoek na die dood van 'n man wat vroeër as vermis aangegee is.
’n Soektog wat Dinsdag 5 Mei by Vaaldam naby Oranjeville uitgevoer is, het gelei tot die opsporing van ’n voertuig wat vermoedelik aan die 70-jarige mnr. Stephen Khanye behoort. Khanye se liggaam is op 15 April in dieselfde gebied gekry nadat hy in Mafube as vermis aangemeld is. Daar word vermoed dat die ontdekking van die voertuig en Khanye se dood wat steeds ondersoek word, verbind kan word.
Volgens sersant Josephine Rani, is die herwinningsoperasie onder uiters moeilike omstandighede en in swak weerstoestande uitgevoer nadat die polisie inligting ontvang het van die voertuig. Ten spyte van die sterk stroom en byna geen sig onder water nie, het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Duikeenheid met onwrikbare toewyding in gevaarlike omstandighede hul plig uitgevoer, het Rani vertel.


Sersant Zwielie Simamane en duikers van Bloemfontein, het verskeie diepwater-soekduike uitgevoer, en is die motor uiteindelik onder ’n brug in die Oranjeville-gebied opgespoor, het Rani gesê.
Weens verslegtende weerstoestande en veiligheidskwessies is die herwinningsoperasie van die voertuig egter tydelik opgeskort en sal dit hervat word sodra toestande verbeter.
Rani het egter die versekering gegee dat die polisie daartoe verbind bly om te verseker dat alle nodige stappe geneem word om die ondersoek af te handel en afsluiting vir die betrokke families te bring.



