Dorp se eerste vliegongeluk onthou
Wapenskoue is destyds by die onderskeie kommando's gehou.
Die eerste vliegtuig wat waarskynlik by Parys geval het, was tydens ‘n wapenskou wat by die Vredefort Kommando gehou is.
Hendrik Bronkhorst van Vredefort was die vlieënier van die eenmotorige D.H.A vliegtuig wat by die skou te siene was. In ‘n onderhoud in 1989 het Kees Versteeg aan Hannes de Wet wat die Kommando-geskiedenis nagevors het, vertel dat Badenhorst offisiere om die beurt vir ‘n vliegrit geneem het.

Toe dit die beurt van Willie Coetser en Jan van Wyk was, het die vliegtuig neergestort. Die vliegtuig het laag oor die toeskouers gevlieg en wou moontlik draai. Die vlerk het toe vermoedelik aan die grond geraak. en die vliegtuig het neergestort. Niemand is in die ongeluk dood nie.
Tweede wapenskou
In 1932 is ‘n wapenskou agter die oorspronklike Parys gevangenis-gebou gehou. Sersant-majoor Ellis van Bloemfontein het die kommando besoek en die manne gedril. By die skou was onder meer ‘n waterverkoelde masjiengeweer te sien waarmee demonstrasies gehou is, en is na staalplate geskiet. Die verrigtinge is met ‘n skynoorlog afgesluit, het Koos en Boet Versteeg vertel.
Die Kommando was aanvanklik as die Vredefort Kommando bekend, en het daarna as die Noord-Vrystaat Kommando bekendgestaan voordat dit uiteindelik die Parys Kommando genoem is.
SA se baanbreker vlieënier
John Weston (Maximilian John Ludwick Weston), ‘n Suid-Afrikaanse ingenieur, word as baanbreker in lugvaart in Suid-Afrika erken. In 1907 bou hy sy vliegtuig in Brandfort in die Vrystaat. Die vliegtuig was van hout gebou, en met seil of materiaal oorgetrek. Die enjin was nie sterk genoeg nie en hy moes veranderinge aanbring.
Eers in 1911 kon hy sy eerste vliegpoging geslaagd uitvoer nadat hy die enjin Frankryk toe geneem het waar dit aangepas is en weer teruggestuur is na Suid-Afrika.
Hy het ook sy vliegopleidingstoetse in Frankryk geslaag.
Met sy geskiedkundige vlug op 16 Junie 1911 vanaf Kimberley in ‘n Weston-Farman Biplane (dubbelvlerk), behaal hy ‘n vlugrekord van agt en ‘n halwe minuut in die lug. John Weston is op 17 Junie 1872 by Fort Marshall naby Vryheid in Natal gebore. Hy het die meeste van sy jeugjare in die VSA deurgebring.
Tydens die Anglo Boere-oorlog keer hy terug na Suid-Afrika om die Boere te kom help veg. Na die oorlog was hy brandarm en keer eers weer terug na Amerika toe voordat hy hom in 1905 in Suid-Afrika vestig.
Na sy eerste vlug het vliegdemonstrasies groot groepe toeskouers gelok.
In 1912 het sy vliegtuigstoor afgebrand as gevolg van brandstigting. In 1913 tref nog ‘n terugslag hom toe sy vliegtuig in ‘n groot stofstorm beskadig is.
Weston het in 1912 met Jan Smuts en sy regering onderhandel om as raadgewer op te tree met die opleiding van vlieëniers en die vestiging van militêre lugvaart. Tydens die eerste wêreldoorlog het hy as vlieënier geveg vir die RNAF. Hy het by die SA magte aangesluit, en ontvang medaljes vir dapperheid en toewyding.
(Inligting oor John Weston saamgestel deur Kobie Ströh).
Lees ook die interessante bylaag ter viering van Parys se 150ste bestaansjaar by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/



