‘Die gekrap in die verlede was soos om ‘n diep kuil troebel water met ‘n lang stok te roer’
Enigiemand wat gefassineer is met menseverhoudings - veral dié tussen ma's en dogters, sal Zelda Bezuidenhout se nuutste pennevrug, Mei en alles daarna. geniet.
Parysenaar en bekroonde skrywer Zelda Bezuidenhout, stel op 16 Mei haar nuutste pennevrug – Mei en alles daarna – by Die Kaalvoetkafee bekend.
Die boek vertel die verhaal van Juna, ‘n byna sestigjarige vrou wat pas weggestap het uit ‘n vervelige, onvervullende huwelik wat waarskynlik nooit moes gebeur het nie. Sy gaan woon in Erikspos, ‘n dorpie in die Klein-Karoo, en begin ‘n pad stap om haarself te vind.
Die dorp is vol kleurryke inwoners, en Juna ontmoet onder andere ‘n ou skoolmaat, Herlien, met wie sy baie jare gelede kontak verloor het.

Deur Herlien se stories en brokkies inligting wat sy soos broodkrummels uitgooi, volg Juna die spoor, en kom op dinge van haar kinderdae af wat sy nooit vermoed het nie. Sy gaan soek ook vir Makalo wat daardie tyd as jong meisie by die gesin gewerk het, vir meer inligting.
Soos die gebeure in plek begin val, word ‘n storie ontbloot wat haar noop om dieper te delf om dinge soos haar ma se siekte en ander intriges te probeer verstaan.
Die geheime en gebeure lei nie net vir Juna nie, maar ook die leser, terug na die 1970’s waar sy soms antwoorde, en soms net meer vrae kry oor wat in Limestone House, waar sy grootgeword, gebeur het.
Dis ‘n diep, karaktergedrewe verhaal oor ‘n vrou se innerlike terugkeer na waar sy vandaan kom om te verstaan wie sy nou is.

In gesprek met Zelda oor Mei en alles daarna.
Dele van die verhaal het ooreenkomste met jou eie kinderdae en die huis waar jy grootgeword het. Jy het dié, nou bouvallige huis, op ‘n stadium besoek. Is dit hoe die idee vir die boek posgevat het?
Ek het in 2012 onbepland by die huis naby Hennenman aangedoen. Portland House was vervalle en alles van waarde was reeds gestroop.
Dit het my ongelooflik hartseer gemaak en ek het myself belowe ek sal eendag op ‘n manier my kinderjare in daardie ou huis dokumenteer. Dit was voordat ek begin fiksie skryf het, dus is die roman waartoe daardie wintersmiddag gelei het, vir my ‘n groot verrassing.
Die boek vertel van omstandighede wat geen kind eintlik moes deurmaak nie, en as lesers beleef ons dit uit die oogpunt van drie kinders wat daar was, wat nou volwassenes is. Hoe het jy dit reggekry om vir die kinders stemme te gee, al is dit dan eers jare later?
Ek vermoed my eie geheue was my bron vir die kinderstemme. Ek het destyds twee Sesotho- maatjies (Rosa en Dora) gehad. In die sewentigerjare, was die kans dat ‘n wit kind swart maats sou hê maar skraal. Dit was tipies die kinders van plaasvolk of van mense wat vir jou ouers gewerk het. So was dit ook met dié twee. Hulle ma, Sanna, was een van my ma se huiswerkers.
Daar was geen plek soos ‘n skool, ‘n fliek of selfs ‘n Sondagskoolpiekniek waar wit en swart kinders mekaar sou kon leer ken of maats sou kon word nie.
Ek het op my onthou van Rosa en Dora se maniërismes staatgemaak vir Makalo as jong meisie.
Herlien se persoonlikheid het ek geskoei op ‘n dogtertjie wat ook in ons fabriekswoonbuurt gewoon het. Sy was ‘n bietjie ouer as ek, maar ons was boesemvriendinne en het die wonderlikste avonture gehad.
Hoe skryf mens oor sulke pynvolle gebeure sonder dat dit vir die skrywer, sowel as die leser, té pynvol raak?
Skryf is terapeuties.
Alhoewel daar baie ooreenkomste tussen Mei en alles daarna en my eie grootwordjare is, is die roman allermins identies aan my geskiedenis. Ek het baie daarvan gefiksionaliseer – deels om karakters wat op die waarheid gebaseer is, te beskerm.
Die ding met so ‘n storie is dat jy as skrywer traumatiese dinge uit jou verlede kan “uitskryf.”
Vir sekere gebeure kon ek gelukkige eindes uitdink, of sosiaal aanvaarbare redes waarom so iets sou gebeur het.
Wat die leser se pyn betref: gewoonlik is trane of ‘n skokreaksie maar net ‘n teken dat iets wat jy gelees het diep met jou resoneer. En dis mos ‘n goeie ding?
Jy kry dit reg om mense, karakters, wat skokkende dinge gedoen het, met deernis en begrip te beskryf. Was dit ‘n doel wat jy voor oë gehad het?
Dit was juis my doel om die newekarakter wat die heel skokkendste ding doen, te vergewe. Ek dink dis waar die deernis en begrip vandaan kom.
Het die skryf van hierdie verhaal emosioneel iets uit jou gehaal, of sou jy sê dit het jou iets gegee?
Die gekrap in die verlede was soos om ‘n diep kuil troebel water met ‘n lang stok te roer. Ek het nooit geweet watter opdrifsels boontoe gaan kom nie. Maar die proses het meer vir my gegee as wat dit van my weggeneem het.
Daar is sekerlik mense wat deur soortgelyke dinge geleef het, of dalk selfs ander omstandighede beleef het waarvoor ons in die verlede minder begrip gehad het. Vandag sou daar beter hulp beskikbaar wees. Wat sou jy wou hê mense wat self sulke dinge beleef het, moet voel nadat hulle jou boek gelees het?
Lesers moet onthou dat die meeste van ons doen wat ons kan met die bronne tot ons beskikking. Soms maak ons ‘n slegte besluit wat soos die beste besluit gevoel het toe ons dit gemaak het.
Ek glo tog dat mense oor die algemeen “kaaind” is (om ‘n Juna-woord te gebruik).
As daar dinge in jou verlede is waaroor jy jouself of ander verwyt, is dit altyd beter om te vergewe en aan te beweeg. Beter vir jou, en beter vir almal óm jou.
Watter leser het jy in gedagte gehad toe jy die boek geskryf het?
Enigiemand wat gefassineer is met menseverhoudings. Veral dié tussen ma’s en dogters.
Ook mense wat graag nostalgies raak oor “die goeie ou dae” (wat soms net in ons geheue so wonderlik is).
Lesers wat hou van ‘n soektogroman, ‘n “quest”-tipe storie, sal van hierdie boek hou.



