‘Moenie my anders behandel nie – loop net die pad saam met my’
Dit is eers wanneer kanker ook jou stryd word, dat jy besef waardeur mense gaan
ngehaak by mekaar het drie sussies saam Rotary Parys se Walk for Hope in the Face of Cancer gestap. Vir hulle is die pad veel langer as die 3,5km wat hul Vrydagaand gestap het. Dis ‘n pad wat reeds in 2023 begin het met Marietjie Wilmot se kankerdiagnose.
“Jy dink kanker is iets waarvan ander praat totdat dit in jou sirkel kom.” Selfs voor die diagnose gegee is, het Marietjie wat vir jare verpleeg en in dokterspraktyke met kankerpasiënte te doene gekry het, geweet – dié keer staan sy aan die ander kant. Daar waar niemand jou kan voorberei op die onbekende wanneer kanker oor jou pad kom.
Eers was dit ovarium kanker en voorkomende chemo. Vir ‘n kort rukkie daarna was haar kanker in remissie, maar in 2025 was die kanker terug met gewasse in haar buik wat ook na haar lewer en longe versprei het. ‘n Tweede rondte chemo het gevolg, maar na toetse is gevind dat die chemo nie die gewenste resultate gehad het nie.
Vir haar is dit reeds fase 4 kanker en het Marietjie op 31 Maart met ‘n derde rondte chemo van ses maande begin.
“Ek het vrede gemaak, ek aanvaar dit so. Daar is soveel wat vir my bid en aan my dink.” En dit is vir hulle wat Marietjie die boodskap dra dat selfs al ken jy nie die pad vorentoe nie, is dit nie die einde nie. “Ek leef met die wete dat dit enige dag my tyd kan wees, maar ek is nog in staat om dinge te doen,” sê sy.
Vrydag kon sy saam met hulle wat haar liefhet, aan haar sy, die pad stap. Soos elke dag wanneer hulle daar is om haar te dra. En dit is wat haar die krag gee vir elke tree op haar pad, – want daar is nog geleentheid om saam te stap, saam dinge te doen.

“Dit is eers wanneer kanker ook jou stryd word, dat jy besef waardeur mense gaan,” vertel Marietjie. “Dit is eers dan as jy self deur die meule gemaal is, dat jy iemand kan help.”
Jare gelede is haar suster aan dieselfde kanker as wat sy het, oorlede, en moes sy ook haar skoonsus aan die dood afstaan weens kanker. Toe was dit ‘n pad wat sy nie self geken het nie.
Maar sedert Marietjie met kanker gediagnoseer is, het ook haar broer en ‘n jarelange vriendin die pad met kanker moes loop. Vir hulle kan sy ‘n oor wees. Daar wees vir hulle.
Uit haar eie ervaring onthou sy hoe vinnig alles gebeur het nadat sy die diagnose gekry het. Eers wou sy die diagnose vir haarself hou, maar gou het die besef gekom dat jy dit vir jou familie en hulle naaste aan jou skuld om te weet.
“Moet my net nie behandel soos iemand wat op pad uit is nie,” was haar wens, en haar boodskap: moet nooit enige waarskuwingstekens wat jou liggaam jou gee ignoreer nie.
Sy was altyd na aan die Here, en sonder Hom sou sy nie hierdeur kon kom nie.
“Elke dag is ‘n dag van genade. Alles wat ons het kom van Hom. Al wat ek van die Here gevra het, is dat as daar iets is wat ek nog hier moet doen, Hy my net die kans sal gee om dit klaar te maak.”
“Ek is ‘n diabeet. Ek het cholesterol en hoë bloedsuiker. Drie bomme in my lyf waarmee ek geloop het. Ek het altyd gedink dat ek hiervan sou doodgaan. Nooit het ek gedink dat kanker my in die gesig sou staar nie. Maar ek is dankbaar ek het nie pyn nie. Ek leef my lewe soos wat ek dit geleef het.”
Al die jare was die Here goed vir haar en haar gesin, getuig Marietjie. Selfs toe haar man, Colin, sy sig verloor het, en sy as enkelbroodwinner haar jongste kinders deur die skool moes kry, was daar nie ‘n dag wat hulle gebrek gehad het nie. Sy voorsienende hand was selfs daar toe sy op 43 haar bestuurslisensie gekry het, net drie maande voordat Colin blind geword het.
“Daar is niks wat ek nie bereik het nie, waaroor ek jammer hoef te voel nie. Ek is gelukkig. Ek het my lewe geleef.”
En wanneer sy nou die onbekende pad loop, is Colin, haar sussies en swaers, en haar kinders en kleinkinders langs haar ingehaak om haar regop te hou, want dié pad is nie die einde nie. Dit is ‘n getuienis om waar die pad jou ookal neem, voluit tot die einde te loop.




