Local newsNews

‘n Fees van musiek by die AfriDome

Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket

‘n Fees van musiek wag op Parysenaars en besoekers by die AfriDome van 29-31 Mei. Die fees val saam met die dorp se 150-jaar feesviering en bied ‘n propvol program met iets vir elke smaak.


Vrydagaand skop af met voete-stamp ritmes van tradisionele Boeremusiek deur die Kroonwild-orkes, terwyl die feesverhoog Saterdag sal skud met 12 top kunstenaars waaronder Karlien Huselman, Anthony McGee, André van der Rheede, Wilmari, Rick Charrit, LJ Upington se Kind, Etha, Garner Nel, Leroi Heunis, Nico Booijse en Amor Vittone. Vir diegene wat die naweek op rustiger noot wil afsluit, is daar die Sondag Gospel- en Country-vertonings. Gospelsangers wat gehoor kan word sluit in Reinier, Jeanri, Nico Booijse en Chris Coetzer. By die Crountry-fees kan Suzette Jacobs, Landee, John Morland, Anne-marié en Cecilia Jane gehoor word.


Hoogtepunte


Buiten die musiek is daar hope opwinding vir die hele gesin. Vanjaar se hoogtepunte is die Mnr. en Mej. Afridome-kroning, en ‘n sangkompetsie met die wenner wat die ongelooflike geleentheid kry vir ‘n opname van een liedjie,’n musiekvideo en ‘n jaar se bestuur en bemarking.


Besoekers kan ook uitsien na talle ander verrassingspryse en kompetisies wat deur die loop van die drie dae aangebied word.


Saterdagaand om 20:00 sal een gelukkige feesganger wegstap met ‘n R2 000 kontantprys en al wat jy moet doen om ‘n kans te staan om te wen, is om teenwoordig te wees met die trekking.


Met heerlike kosstalletjies en unieke uitstallers, beloof dit om ‘n naweek vir die boeke te wees. Meer as 80 uitstallers, hope kindervermaak waaronder springkastele,’n meganiese bul vir oud en jonk, gesigverf, ponieritte ‘n petting zoo en vele meer wag op feesgangers.


“Die inisiatief vir die Afridome fees het ontstaan omdat nuwe sangers en veral onafhanklike kunstenaars baie min of geen platforms het om hulself en hul musiek bekend te stel,” gesels feesorganiseerder Ian Bossert.

Van die kunstenaars wat by die musiekfees sal optree. Foto: Verskaf
Van die kunstenaars wat by die musiekfees sal optree. Foto: Verskaf


Bossert sê IBEnterprises werk met onafhanklike sangers wat beteken hulle finansier hulself.
“Deur die fees aan te bied bring ons die kunstenaars na die mense toe.”


Daar is in totaal 24 kunstenaars en die boeremusiekorkes wat oor die naweek gehoor sal word.


Feeskaartjies


Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket. Moenie wag nie – kry jou kaartjie sommer nou.


Navrae


Vir navrae skakel 066 489 3242.


Deel die warmte


Die gemeenskap word aangemoedig om deel te neem aan die spesiale Winter-hulpprojek om Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) te ondersteun. Feesgangers word gevra om asseblief komberse (nuut of gebruik), blikkieskos of nie-bederfbare voedsel saam te bring. Daar sal ‘n aflaai-punt by die verhoog wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button