12-Jarige sterf in fratsongeluk tydens jagtog op VS-plaas
Die dogtertjie is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy per ongeluk ’n 12-jarige meisie van Krugersdorp tydens ’n jagtog op die Franshoek-plaas naby Ficksburg doodgeskiet het, is in hegtenis geneem en van moord aangekla. Hy sal na verwagting vandag in die Ficksburg-landdroshof verskyn.
Volgens adjudant-offisier Mmako Mophiring het die oorledene se pa en die verdagte op 29 Mei op die plaas gejag toe die verdagte na bewering per ongeluk ’n vuurwapen afgevuur het, wat die 12-jarige meisie noodlottig gewond het.
Die dogtertjie is na ’n plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling, maar is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Die voorval is deur hospitaalpersoneel by die polisie aangemeld.



