Ligte afgesit by klinieke, polisie en ander oor miljoene se kragskuld
Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur is verantwoordelik vir die munisipale diensterekeninge van dié regeringsdepartemente waaronder die fasiliteite ressorteer.
Die ligte is verlede week afgeskakel by onder meer klinieke, polisiestasies, howe, biblioteke, korrektiewe dienste, provinsiale toets- en lisensiestasies, en selfs howe in al vyf Ngwathe-dorpe (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville) weens miljoene rande se kragskuld wat volgens die Ngwathe-munisipaliteit deur die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur aan hom verskuldig is.
Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur is verantwoordelik vir die munisipale diensterekeninge van dié regeringsdepartemente waaronder die fasiliteite ressorteer.
Volgens Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, en die munisipaliteit se finansiële afdeling, beloop die munisipale skuld van regeringsdepartemente in die Ngwathe-dorpe reeds meer as R234m.
Aksie is verlede Woensdag geneem nadat geen terugvoer ontvang is op finale kennisgewings van voorneme om die kragtoevoer af te sny nie. Die kennisgewings is op 25 Mei oorhandig.
Die polisiestasies, howe en korrektiewe dienssentrum se kragtoevoer is teen die naweek herstel nadat ‘n betalingsooreenkoms met die nasionale Departement van Openbare Werke bereik is.
Onderhandelinge met die provinsiale Departement van Openbare Werke duur egter voort.
Klinieke se kragtoevoer is teen Maandag herstel, het Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Gesondheid, gesê. Mvambi het ook beklemtoon dat die Departement van Gesondheid, as diensleweringsdepartement, nie verantwoordelik is vir die betaling van elektrisiteitsrekeninge nie en dat dié funksie deur die Vrystaatse Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur (DOWI) verrig word.

Hy het gesê dat die Hoof van die Departement van Gesondheid deur gevestigde interregerings- en samewerkende bestuurskanale met Openbare Werke in gesprek is om te verseker dat die aangeleentheid dringend opgelos word. Klinieke in Ngwathe is vantevore ook weens wanbetaling sonder krag gelaat.
Mvambi het die versekering gegee dat alle klinieke wat geraak is, deurentyd oop was en pasiënte gehelp het. Kliniek-yskaste beskik oor tot 72 uur se koelkettingkapasiteit. Daarbenewens is alternatiewe veilige bergingsreëlings ingestel om die vereistes van die entstofkoelketting vir langer as 72 uur te kon handhaaf, ook oor die naweek totdat die kragtoevoer herstel is.
Teen Dinsdag was die biblioteke en provinsiale verkeerskantore se kragtoevoer egter volgens Ngwathe nog nie herstel nie. Die munisipaliteit sê hy het ook nog geen betalings ontvang vir enige van die instansies wat geraak is nie. Dinsdag was die sperdatum vir betaalreëlings, en die munisipaliteit sal verdere aksie neem indien geen reëling of betaling ontvang word nie, is gesê.
In November 2025 het Ngwathe soortgelyke aksie teen verskeie skole geneem terwyl leerders besig was met die eindjaareksamen. Hoewel skole nie onder die staatsinstellings was teen wie verlede week opgetree is nie, bly ook dié rekeninge problematies, het Ngwathe gesê.Van al die skole in Ngwathe is met vier se munisipale rekeninge ten volle betaal, sê Ngwathe.
Gazette het navraag oor die aangeleentheid aan die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur gerig. Die departement se woordvoerder, Paul Matlanyane, het die onderbreking van die kragtoevoer in telefoniese terugvoer aan diefstal toegeskryf.
Ngwathe se skuld aan Eskom het sedert 2009 opgehoop tot byna R3 miljard, het Eskom in April vanjaar gesê. Ngwathe hef geen rente op agterstallige dienstegelde van regeringsdepartemente nie. Tog bly die skuld groei, wat bydra tot Ngwathe se enorme skuld aan Eskom.
Dit is egter nie net vir elektrisiteit waarvoor gebruikers in Ngwathe nie betaal nie. Mothamaha het beklemtoon dat oudits van watermeters tans gedoen word, met talle huishoudings wat nie hul diensgelde of verbruik vir water betaal nie.



