Ngwathe Raad ontbind: So werk dit nou
Die administrateur en sy span sal Maandag met hul taak by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit begin,
Die Vrystaatse LUR vir COGTA (Departement Samewerkende Regering en Tradisionale Sake), Saki Mokoena het vandag tydens ‘n raadsvergadering die raad met onmiddellike effek ontbind en aangekondig dat ‘n kennisgewing Vrydag (26 Junie) in die staatskoerant verskyn wat die vereistes en voorwaardes van provinsiale ingryping by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit uiteen sit, en die aanstelling van die administrateur, dr. Solly Motingoe, en sy span sal aankondig.
Dit beteken dat regter JP Daffue se opspraakwekkende uitspraak in die Vrystaatse Hoë Hof waarin hy as deel van ‘n gestruktureerde interdik die ontbinding van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se Raad, en dringende ingryping deur die provinsiale regering by dié munisipaliteit al in 2025 beveel het, nou uiteindelik tot uitvoer gebring word.

Motingoe en sy span sal amptelik Maandag begin, maar was dr Motingoe ook teenwoordig tydens vandag se raadsvergadering.

‘n Nuwe raad sal nie nou verkies word nie, maar eers na die plaaslike munispale verkiesing op 4 November saamgestel word.
Wat beteken die aanstel van ‘n administrateur vir Ngwathe
By munisipaliteite wat onder administrasie is, is dit die administrateur wat besluite neem in oorleg met die provinsiale raad. Die aanstel van ‘n administrateur verander niks aan die amptenary of te wel personeel van die munisipaliteit wat steeds verantwoordelik is vir dienslewering en die uitvoer van besluite, maar die administrateur moet omsien na kritieke kwessies waaronder dienslewering, en finansiële sake van die munisipaliteit.
In wese is munisipaliteite wat onder administrasie geplaas word ‘n sogenaamde “top to bottom approach met ‘n nuwe werkswyse en prestasie beheer, maar steeds dieselfde amptenare.
Openbare teenwoordigheid
Lede van die publiek, AfriForum en die media het vanoggend die publieke galery in die raadsaal volgesit, maar is gevra om die raadsaal te verlaat, voordat LUR Mokoena met raadslede gepraat het. COGTA se Hoof van die Departement, Tshepiso Ramakarane, het egter na afloop van die vergadering aan die publiek verduidelik wat aan raadslede gesê is.
Dokumente is ook tydens die gesprek deur Henry Deale namens die gemeenskap aan Ramakarane oorhandig waarin voorgestelde openbare deelname by die administrasie proses uiteengesit is. Die wens is uitgespreek dat die gemeenskap die geleentheid gebied sal word om met hul vaardighede ten nouste met die administrateur saam te werk.

Lang hofstryd
Raadslede met wie Gazette gepraat het, het gesê dat hulle die aankondiging te wagte was ná die maandelange en uitgerekte hofstryd waartydens Ngwathe hom eers tot die hooggeregshof, en daarna ook tot die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof gewend het met aansoeke om teen die hofbeslissing te appèlleer.

Die regsstryd is finaal beeïndig toe die Konstitusionele Hof op 2 Junie Ngwathe se aansoek met koste van die hand gewys het om regter JP Daffue se oorspronklike beslissing finaal afdwingbaar te maak.
AfriForum se brief aan die Vrystaatse premier
Mokoena se ontbinding van die Raad volg dae nadat die burgerregte organisasie AfriForum wat in Desember 2024 die dringende aansoek vir provinsiale ingrypng tot die hof gerig het, vroeër die week dringende antwoorde van die Vrystaatse premier, MaQueen Letsoha-Mathae, ge-eis het oor waarom die Vrystaat-regering “voete sleep om uitvoering te gee aan die bevel van die hof.”
AfriForum het antwoorde teen 26 Junie ge-eis oor watter stappe reeds gedoen is om die hofbevel uit te voer; wanneer die ingryping amptelik afgekondig gaan word en wanneer die munisipale raad ontbind en ’n administrateur aangestel sal word,
Die organisasie se brief aan die premier is gerig nadat dit aan die lig gekom het dat die munisipale raad ’n begroting vir die nuwe boekjaar aanvaar het, is deur AfriForum in sy verklaring gesê.

Wat het regter Daffue se uitspraak bepaal
Kragtens regter Daffue se oorspronklike uitspraak op 20 Junie 2025 is bepaal dat die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
* ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
* die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;
* en ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Daffue het bevind dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel, en beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering met die implementering van die bevel.
Voorts is beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum wat die aansoek na die hof gebring het, se regskoste moet betaal.
In al die appèlaansoeke van Ngwathe is ook ‘n kostebevel gegee waarvolgens Ngwathe aanspreeklik gehou is vir die enorme regskoste.



