Local newsNews

Brandwonde: Maak seker jy en jou gesin is veilig

Selfs met die nodige voorsorg kan ongelukke steeds gebeur. Daarom is dit belangrik om te weet hoe om op te tree.

In die koue wintermaande neem die risiko van beserings as gevolg van verwarmers en die risiko vir huisbrande skerp toe.

Mande Toubkin, hoofbestuurder van nood-, trauma-, oorplantings- en korporatiewe maatskaplike beleggings by Netcare, waarsku dat ‘n brand binne sekondes buite beheer kan raak en ernstige brandwonde, beserings of selfs sterftes veroorsaak.

“Brandwonde en ander hitteverwante beserings kan dikwels voorkom word, maar mense onderskat die gevare in hul eie huise of bekende omgewings,” sê sy.

Sy beklemtoon dat veiligheid altyd die hoogste prioriteit moet wees wanneer enige hittebron gebruik word, veral waar kinders teenwoordig is.

“Alledaagse huishoudelike items soos brandende kerse, verwarmers, paraffienlampe, warm strykysters, ketels, stowe, kookpotte, oonde en kaggels, asook aanstekers en vuuraanstekers, kan vinnig gevaarlik raak wanneer veiligheidsmaatreëls nie nagekom word nie,” waarsku Toubkin.

Hou die volgende in gedagte

  • Moet nooit verwarmers of ander hittebronne sonder toesig laat nie.
  • Hou die area rondom verwarmers oop en verwyder los drade of struikelgevare.
  • Hou kinders fyn dop in die kombuis, naby verwarmers en enige warm voorwerpe.
  • Stel die geiser se temperatuur op ‘n veilige vlak van tussen 50 °C en 55 °C.
  • Moenie vlambare vloeistowwe gebruik om ‘n vuur aan te steek nie.
  • Blus alle vure en skakel verwarmers af voordat jy gaan slaap.
  • Verseker voldoende ventilasie in binnenshuise ruimtes.
  • Wees versigtig wanneer warm drankies, kookwater of stomende kos hanteer word.
  • Toets badwater voordat kinders daarin klim – dit moet aangenaam warm wees en nie te warm nie.
  • Maak seker dat elektriese proppe, aansluitings en koorde in ‘n goeie toestand is.
  • Onderhou brandblussers gereeld en sorg dat almal weet hoe om dit te gebruik.
  • Installeer rookverklikkers en koolstofmonoksiedverklikkers in die huis.

Wat om te doen indien iemand brandwonde opdoen

Shalen Ramduth, operasionele direkteur van Netcare 911, sê selfs met die nodige voorsorg kan ongelukke steeds gebeur. Daarom is dit belangrik om te weet hoe om op te tree.

  • Die eerste stap is om kalm te bly en seker te maak die persoon is uit gevaar deur die hittebron te verwyder of die vlamme te blus.
  • Beoordeel daarna die beserings. Indien die brandwonde ernstig is, baie pyn veroorsaak, die oë betrek, groter is as die slagoffer se hand of indien rookinaseming vermoed word, moet noodmediese hulp onmiddellik ontbied word.
  • Verwyder enige klere wat nie aan die wond vaskleef nie, veral indien dit nog smeul. Klere wat aan die wond vaskleef, moet egter deur mediese personeel verwyder word.
  • Spoel die verbrande area vir minstens 20 minute met koel lopende water af en bedek dit daarna met ‘n skoon, nat lap, ‘n brandwondgel of ‘n geskikte wondverband. Ys moet nooit op ‘n brandwond geplaas word nie, aangesien dit verdere weefselskade kan veroorsaak.
  • Hou die wond skoon en beskerm totdat dit deur mediese personeel behandel kan word.

Volgens Toubkin begin doeltreffende behandeling van brandwonde by openbare bewusmaking en basiese noodhulpkennis.

“Vir ernstige brandwonde werk ons geïntegreerde span – vanaf die paramedici en ongevalle-eenhede tot rehabilitasiespesialiste – saam om die beste moontlike uitkomste vir pasiënte te verseker,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button