Sak vir sak vir ‘n skoner vleiland
Onthou die volgende skoonmaakaksie op 7 Augustus. Vrywillige hande wat wil help is altyd welkom.
Gewillige hande het Vrydagoggend 24 Julie, in die Parys Vleiland Park skoongemaak.
Dié keer by die treinbrug wat die dorp met die nywerheidsgebied verbind. Nie minder nie as 153 sakke vullis is deur die 27 vrywilligers van die Parys Vleiland Park NPC, en die nie-winsgewende organisasie, Kohobotja, opgetel.
Selfs ‘n jong seun, Cilliers Kruger, wat die bedrywigheid by die treinbrug gesien het, het fluks kom hand bysit.

Vrydag was die vierde skoonmaakaksie en sal daar weer op 7 Augustus moue opgerol word vir die volgende skoonmaak.

Die munisipaliteit se staatmaker vullisverwyderingspan het ook hul kant gebring en na die skoonmaak die vullissakke opgelaai.
Vrywilligers wat help skoonmaak het, is deur O’s Restaurant getrakteer met heerlike pizzas.
Die transformasie wat die afgelope net meer as ‘n jaar in die Parys Vleiland-gebied gesien is, danksy die Parys Vleiland Park-komitee met die ondersteuning van Damlaagte Solar, Ilikwa Solar en Sasol, word raakgesien deur die honderde voetgangers, fietsryers en drawwers wat daagliks deur die vleiland-gebied beweeg.


Benewens die vasvat van indringerplantspesies en die gereelde skoonmaakaksies, is die 1,4km spoorlyn wat deur die vleiland loop en vir jare al in onbruik is, ook opgevul sodat voetgangers droogvoets op die rail trail deur die vleiland kan beweeg.
Daar word reeds hard gewerk om die rail trail uit te brei na die stasieperseel met ‘n verdere 600m om ook dié deel van die vleiland beter te benut en veiliger te maak. Daar is die afgelope week begin met ontbossing in die rietbos agter die Sonskyn tehuis in Eerstelaan. Terselfdertyd word indringerplante in dié deel van die vleiland vasgevat. wat hoofsaaklik die gevolg is van tuinvullis wat mense hier onwettig gestort het.
Die plan is om waarskynlik reeds teen Vrydag die addisionele 600m van die rail trail gelyk gemaak opgevul te hê. Dit sal beteken dat die honderde voetgangers wat daagliks deur die vleiland beweeg tussen hul woonhuise, en die nywheids- en dorpsgebied, dan by die brug in Father Balink sal kan opklim of verder af by Dolfstraat sodat hulle ook hier droogvoets sal kan beweeg pleks van deur die stegie by die laerskool sportgronde.





