Jou ondersteuning vir skool-gholfdag maak ‘n wêreld se verskil vir Ntshwephepha-leerders
Vakansiepryse, sportmemorabilia en ander gesogte items sal ook na afloop van die gholfdag by 'n veiling onder die hamer kom.
Die gemeenskap en sakelui kan vanjaar weer help om ‘n verskil vir die Ntshwephepa Primêre Skool in Tumahole, Parys, te maak wanneer dié skool sy jaarlikse gholfdag hou. Vanjaar is die vierde jaar dat dié dag as fondsinsameling aangebied word.
Die gholfdag is op Vrydag, 14 Augustus by die pragtige Vaal de Grace Gholflandgoed en bied nie net ‘n uitstekende geleentheid vir gholfspelers nie, maar ook waardevolle netwerkgeleenthede en ware gemeenskapsgees, terwyl broodnodige fondse ingesamel word om die gehalte van onderwys vir die leerders van Ntshwephepa Primêre Skool verder te verbeter.


Gholfspelers word genooi om ‘n 4-balspan vir slegs R2 000 in te skryf en ‘n onvergeetlike dag op een van Suid-Afrika se mooiste gholfbane te geniet. Besighede kan ook hul betrokkenheid wys en waardevolle blootstelling kry deur ‘n watergat vir R1 000 te borg.


Die hoogtepunte van die dag eindig egter nie op die gholfbaan nie. Lede van die publiek word genooi om die veiling by te woon waar verskeie items onder die hamer sal kom. Dit sluit onder meer vakansies aan die Suid-Afrikaanse kus, sportmemorabilia en ander gesogte items in.
Gaste kan ook uitsien na ‘n heerlike spitbraai, voorberei deur LA OMA Slaghuis, teen slegs R250 per persoon. Dit bied die ideale geleentheid om saam met familie, vriende en ander lede van die gemeenskap ‘n gesellige middag deur te bring.
Elke rand wat tydens die gholfdag ingesamel word, word direk aangewend om onderrig en leer by Ntshwephepa Primêre Skool te verbeter. Die fondse sal gebruik word om moderne tegnologie vir klaskamers aan te koop, insluitend projektors, interaktiewe onderrigtoerusting en ander opvoedkundige hulpmiddels wat die leerervaring van honderde leerders sal verryk.
“Ons jaarlikse gholfdag het een van die hoogtepunte op ons fondsinsamelingskalender geword. Die ondersteuning wat ons van plaaslike besighede en die gemeenskap ontvang, stel ons in staat om ons leerders beter opvoedkundige geleenthede te bied en hulle voor te berei vir ‘n tegnologiegedrewe
toekoms. Ons nooi almal uit om deel te word van hierdie betekenisvolle inisiatief,” sê die skoolhoof, Thys Moloantoa.
Of jy ‘n span inskryf, ‘n watergat borg, die veiling bywoon of bloot saam met die skool
die spitbraai geniet –jou ondersteuning sal ‘n blywende verskil maak in die lewens van
Ntshwephepa se leerders.
Vir meer inligting kontak die skoolhoof by 071 359 3081, of Marie de Gouveia (gholfdagorganiseerder) by 081 046 4859



