Vrystaatse man wat in dam verdrink steeds nie uitgeken nie
Die liggaam was reeds in 'n gevorderde stadium van ontbinding.
Daar word steeds gesoek na die familie van ‘n onbekende man, wie se liggaam Donderdag, 27 Augustus, in ’n dam by Trompsburg in die Vrystaat gevind is.
Die liggaam is deur skaapwagters ontdek wat besig was om beeste op te pas, het sersant Sinah Mpakane gesê.
Met hul aankoms by die Slagpan-plaasdam, naby Trompsburg, het polisielede die liggaam in ‘n gevorderde stadium van ontbinding in die dam gekry.
Die liggaam is na die staatslykshuis vervoer vir verdere ondersoek en is ’n geregtelike doodsondersoek geopen.
Enigiemand wat kan help om die oorledene se familie op te spoor, of wie moontlik ’n familielid as vermis aangemeld het, word versoek om die Trompsburg-polisie se speurbevelvoerder, adjudant-offisier Legegeru, by 082 467 6605 te kontak.
Inligting kan ook by Crime Stop op 08600 10111 aangemeld word. Die publiek kan ook anoniem inligting deur die MySAPS-toepassing indien.



