Local newsNews

Ngwathe rioolstorting: Uitstel gegee vir moontlike pleitooreenkoms

Twee gevalle van rioolstorting is vandeesweek onder die munisipaliteit se aandag gebring waaraan onmiddellik aandag gegee is.

Die saak tussen die staat en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor rioolbesoedeling is Vrydag in die landdroshof in Parys gehoor, en is tot 5 Maart 2027 uitgestel vir ‘n moontlike pleitooreenkoms. Daar moet nou oor die voorwaardes van so ‘n ooreenkoms onderhandel word.


Verskeie klagtes oor rioolbesoedeling deur die munisipaliteit is sedert 2018 aangemeld. Die plaaslike tak van die burgerregte-organisasie AfriForum het in 2023 onder meer strafregtelike klagtes teen die destydse waarnemende munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, Tebogo Manele, ingedien oor rioolstortings wat direk of indirek in die Vaalrivier beland het.
Die klagtes is deur die Groen Skerpioene ondersoek.


Die munisipaliteit het in sy kommentaar oor die klagte by monde van sy tegniese direkteur, Patricia Morokolo, aangedui dat alle pompe by die rioolpompstasies en die rioolwerke sedertdien herstel is, asook die rugsteunkragopwekkers. Dit het daartoe gelei dat daar sedert middel September geen rioolstortings by die pompstasies was nie, sê sy.


Sy het ook verwys na onlangse kragonderbrekings wat die dorp ondervind het, onder meer tydens instandhoudingswerk deur Eskom by die substasie in Parys. Gedurende dié onderbrekings het die rugsteunkragopwekkers verseker dat die rioolwerke en rioolpompstasies steeds kon funksioneer.


Morokolo sê die rioolpompstasies word deurlopend gemonitor en drie keer per dag nagegaan.


Sy sê ‘n sakeplan is reeds by die Departement van Waterwese en Sanitasie ingedien vir die opgradering van die dorp se verouderde rioolaanleg. Die munisipaliteit is hoopvol dat daar moontlik vroeg in 2027 met die opgradering van die aanleg begin kan word indien die departement die plan aanvaar.


Die munisipaliteit is tans besig om sy tegniese verslag en implementeringsgereedheidstudie af te handel vir indiening by die departement.


Intussen werk die munisipaliteit daaraan om sy infrastruktuur in stand te hou om rioolstortings te voorkom, en om gebiede waar stortings plaasgevind het, te rehabiliteer, is genoem.


Rioolstorting is vroeër vandeesweek agter die Sasol-vulstasie by die kruising van Breë- en Van Collerstraat gerapporteer, en vanoggend ook by die Mimosa Tuine teen die Vaalrivier.

Foto;s van die rioolstorting wat vanoggend by die Miimosa Tuine gesien is. Foto's: Johan Smit
‘n Foto van die rioolstorting wat vanoggend vanaf die Potchefstroom-brug by die Miimosa Tuine geneem is.. Foto’s: Johan Smit

Die munisipaliteit het by navraag aangedui dat hy aandag gee aan die stortings wat gerapporteer is, en is onmiddellik opgetree om die probleem op te los.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button