Droom bewaarheid vir Henco ná SA Senior Atletiekkampioenskappe
Vir die Pukke se Henco Uys wink die 29ste Taipei 2017 Universiade wanneer hy van 19 tot 30 Augustus saam met top studente vanoor die wêreld op die sportveld sal meeding. ’n Jarelange droom wat vir hierdie baie talentvolle atleet die afgelope naweek bewaarheid is toe hy met ’n silwermedalje in die 800m by die …

Vir die Pukke se Henco Uys wink die 29ste Taipei 2017 Universiade wanneer hy van 19 tot 30 Augustus saam met top studente vanoor die wêreld op die sportveld sal meeding. ’n Jarelange droom wat vir hierdie baie talentvolle atleet die afgelope naweek bewaarheid is toe hy met ’n silwermedalje in die 800m by die SA Nasionale Senior Atletiekkampioenskappe op die PUK McArthur-stadion in Potchefstroom gekwalifiseer het vir dié Wêreld Studente kampioenskappe.
Van die land se voorste atlete het die afgelope naweek deelgeneem met groot name in atletiekkringe.
Henco se sukses volg nadat hy vroeër vanjaar ook verras het met ’n eerste plek op sy tuisbaan in die uiters kompeterende Mans 800m-item met ’n skitterende tyd van 1:49:87 tydens die Varsity Atletiekbyeenkoms in Potchefstroom.
En hierdie naweek wag die USSA kampioenskappe in Groenpunt vir hom. Henco skryf sy sukses toe aan baie harde werk ná ’n paar terugslae wat hy met sy gesondheid en beserings gehad het. Só kon hy eers in 2013 regtig op sy atletiekloopbaan fokus. Hy is tans ’n honneursstudent in sportwetenskap en word afgerig deur Jean Verster. Henco is die seun van Nico en Sandra Uys van Parys.



