Uitbundige blydskap en uitdagings ná genade-reën
Swaar en aanhoudende reën wat sedert verlede week oor groot dele van die land geval het, het vir ‘n paar benoude oomblikke vir motoriste in Potchefstroom gesorg. Die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp is Sondagmiddag omstreeks 16:00 vir verkeer gesluit nadat voertuie letterlik deur ‘n see van water moes ry. Die roete is egter weer …
Swaar en aanhoudende reën wat sedert verlede week oor groot dele van die land geval het, het vir ‘n paar benoude oomblikke vir motoriste in Potchefstroom gesorg.
Die N12 tussen Potchefstroom en Klerksdorp is Sondagmiddag omstreeks 16:00 vir verkeer gesluit nadat voertuie letterlik deur ‘n see van water moes ry.
Die roete is egter weer vroeg Maandagoggend oopgestel vir verkeer.
Potchefstromers het Sondag tussen 68mm en 75mm reën gemeet.
Die reën, tesame met Eskom se beurtkrag, het ook bygedra tot heelwat kragprobleme in Potchefstroom oor die naweek.
Dit het met eiesoortige uitdagings gekom, ook vir die organiseerders van die Abraham Kriel Kinderhuis se jaarlikse Liggiefees wat nog tot die einde van Desember beleef kan word. Maar ten spyte van die kragonderbrekings is plan gemaak en het heelwat besoekers Saterdagaand te midde van die reën, die Parletones se optrede geniet.
In Parys is ook oor die naweek gesukkel met kragonderbrekings in verskeie strate van die dorp, selfs na beurtkragtye. Dit na verlede week se kragprobleme wat alreeds gelei het tot groot frustrasie.
Parys het teen Dinsdagoggend reeds 136mm reën vir Desember gehad.

Genade-water wat sedert verlede week oor groot dele van die land geval het. Die treffende foto is deur Monique Terblanche op hul plaas Renosterdraai in die Koppies-distrik geneem.
In Koppies was daar jubelende vreugde oor die 46mm wat sedert verlede Dinsdag tot Maandagoggend gemeet is. Vir November is daar op Renosterdraai in die Koppies-distrik 53mm reën in totaal gemeet.
In Johannesburg was die M1-hoofweg, noord sowel as suid, Sondagmiddag onder water en dele van die R21 na die OR Tambo-lughawe is deur die reën geraak.
In Pretoria het die Apiesrivier sy walle oorstroom by die laagwaterbrug in Capital Park, terwyl die Hennopsrivier in Centurion sy walle oorstroom het. ‘n Laagwaterbrug op die h/v Rabie en Endstraat in Centurion het verdere uitdagings vir nooddienste veroorsaak toe dit oorstroom het.





