NewsNews

Leonel Riekert: Woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie

Harte oop vir Leonel

Mense van oraloor se harte was net eenvoudig oop vir die nood van die 4-jarige klein Leonel Riekert van Parys nadat die Gazette berig het oor die fratsongeluk waartydens Leonel se linkeroog ernstig beseer is.

Danksy die ongelooflike ondersteuning van mense vir haar ouers wat nie ‘n mediese fonds het nie, sal Leonel Dinsdag wel geopereer kan word om te probeer om haar sig in die ogie te red.

Die ongeluk het Dinsdag 2 Junie gebeur toe Leonel geval het terwyl sy ‘n skêr in haar handjies gehou het. Die skêr het haar linkeroog en wang gepenetreer.

Hoewel oogspesialis, dr Corné Gouws, Woensdagoggend die wond toegemaak het met die eerste operasie, is daar Donderdag 4 Junie, met die ondersoek gesien dat Leonel se retina as gevolg van die besering los is, en het ‘n vitreo-retinale spesialis in Johannesburg haar Vrydagoggend ondersoek.

Dr. Bernard Wolff sal nou Dinsdag die dringende operasie by die Johannesburgse  Ooghospitaal op haar oog doen. Eers dan sal  haar ouers weet wat die pad vorentoe inhou as gesien kan word wat werklik die skade aan haar retina is, en of haar sig herstel kan word. Tans het sy nie sig in die ogie nie.

Vir Leonel gaan dit nog ‘n lang pad na herstel wees, maar pak haar ouers elke dag in geloof aan.

Die operasie is moontlik gemaak danksy mense se ongelooflike omgee en bydraes tot die trustrekening wat vir haar gestig is met die aanvanklike plasing van die berig. Die trustrekening word deur prokureur Stefan Scheepers geadministreer en is reëlings reeds met die hospitaal getref om die operasie te kan betaal.

Die fondse vir die operasie is binne ‘n dag ingesamel  en sê Leonel se ouers dat woorde nie kan beskryf hoe ongelooflik dankbaar hulle is teenoor mense wat eenvoudig net hul harte oopgemaak het om klein Leonel te help – of dit ‘n oproep, boodskap, gebed of bydrae was.

Daar is eenvoudig net te veel name om te noem – van kunstenaars wat bereid was om Leonel se storie op hul sosiale platforms te deel, tot die Secret Saints van Vereeniging en ander organisasies en individue wat eenvoudig ingespring het om te help.

Elke bydrae word opreg deur hierdie gesin waardeer.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button