NewsNews

Hoe om die regte rugsteun- of opwekkingstelsel te kies en te verseker

Hoe om die regte rugsteun- of opwekkingstelsel te kies en te verseker

Prysverhogings vir elektrisiteit tussen April en Julie vanjaar, tesame met die alomteenwoordige bedreiging van beurtkrag, lei daartoe dat baie Suid-Afrikaners hulself tot alternatiewe kragbronne en rugsteunstelsels wend. Maar hoe kies jy die regte stelsel? Hoe pas jy dit op en hoe laat jy dit voldoende verseker? “Suid-Afrikaners moet nie alleen ‘n allemintige 15% meer vir elektrisiteit opdok nie, maar is ook deurentyd bewus van die druk op die nasionale kragnetwerk wat hulle binne ‘n oogwink sonder elektrisiteit kan laat,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. Dit gaan ‘n gesamentlike poging verg om verbruik te verlaag, maar hierin lê ook ‘n geleentheid vir klein verstellings en slim beleggings wat verbruikers in beide die kort- en langtermyn ‘n hele paar rand kan spaar en terselfdertyd die omgewing kan help. Jy kan reeds heelwat bespaar deur ligte af te skakel, jou warmwatertoestel se termostaat af te stel, te bespaar op jou gebruik van warm water en die uitprop van ongebruikte elektriese toestelle. Energiedoeltreffende gloeilampe en ander toestelle, geisertydskakelaars, hittepompe of sonpanele vir geisers kan ook baie help.

Dan is daar ook hoë koste alternatiewe energiebronne soos sonwaterverhittingstelsels en ander sonkragtoestelle wat uitstekende waarde bied tesame met onafhanklikheid van die netwerk en verlaagde impak op die omgewing. “Dis nie alles-of-niks nie, want ‘n mens kan die omskakeling na ‘n energieslim huishouding in fases benader,” sê Coetzee. “Fokus eers op besparing en effektiwiteit en spreek die grootste verbruikers in jou huis aan. Daarna kan jy kyk na rugsteunstelsels, soos batterye wat van die gewone elektrisiteitstoevoer af laai, om jou tydens onderbrekings te help. Jy kan stelselmatig batterye toevoeg om jou vir langer of met meer toestelle te onderhou. Dan kan jy kyk na energie-opwekking deur byvoorbeeld sonpanele. Jy kan stelselmatig sonpanele byvoeg om jou huis meer onafhanklik van die netwerk te maak.” Wanneer dit by die keuse van ‘n stelsel kom, sê Rohann Mattheus, ‘n direkteur van Solar Craft, dat die beste oplossing vir jou in die eerste plek bepaal word deur jou huidige elektrisiteitsverbruik en hoe energiedoeltreffend jy leef – nie die grootte van jou huis of die aantal mense daarin nie – en tweedens deur jou behoeftes ten tye van ‘n kragonderbreking: Sonkrag en sonwaterverhitting bied uitstekende beleggingswaarde met geen- of lae risiko, met waterverhittingtoestelle wat normaalweg in minder as 24 maande vir hulself kan betaal, en sonkragtoestelle wat normaalweg binne 3.5 tot ses jaar dieselfde kan doen.

Belangrike dinge om in ag te neem wanneer jy ‘n verskaffer kies, sluit die volgende in:

* Hoe lank die verskaffer bestaan, hul aantal suksesvolle installasies en hoe sterk die onderneming is om oor vyf jaar nog goeie naverkopediens te kan lewer.

* Hoe goed hul terugvoer van bestaande of vorige kliënte is, of hul installasies aan SANS en NERSA se vereistes voldoen, deur gekwalifiseerde en geregistreerde elektrisiëns uitgevoer word, en of ‘n elektriese ingenieur die kwaliteit van komponente en installasies nagaan.

* Of hulle oor genoegsame kennis beskik om raad te gee, en of die produk wat hulle bied 100% geskik is vir jou behoeftes.

* Of hulle na die installasie ‘n sertifikaat van voldoening (“COC”) uitreik. Wanneer dit by die ontwerp van, en sorg vir, hierdie stelsels kom is dit beter om ‘n effens groter stelsel te kry as wat jy benodig, aangesien dit minder druk op die stelsel sal plaas en die risiko van probleme sal verlaag.

Alle standaard beskermingsmeganismes moet ingesluit word, en komponente moet op ‘n gepaste plek – veral wat temperatuur, blootstelling aan stof en water betref – geïnstalleer word. In terme van veiligheid beskik meeste moderne omsetters oor moniteringstelsels wat ‘n duidelike aanduiding sal gee as iets skort. Dit is belangrik om onmiddellik daarop te reageer, die oorsaak van ‘n fout vas te stel en, indien nodig, regstellings te maak.

Ten slotte, wys Coetzee ‘n paar belangrike dinge uit om in ag te neem wanneer dit by die versekering van rugsteun- en opwekkingstelsels kom: Losstaande kragstelsels kan gespesifiseer word onder alle risikodekking, of dit kan gedek word onder huisinhoud (mits dit nie buite staan nie). Kragstelsels wat permanent aan ‘n gebou gekoppel word sal onder geboueversekering gedek word, maar die versekerde waarde van die gebou moet dienooreenkomstig aangepas word. Enige installasie moet volgens die vervaardiger se instruksies en, waar toepaslik, die relevante bouregulasies gedoen word. Insluitings en uitsluitings is in meeste gevalle dieselfde as vir alle risikodekking, huisinhoud en geboueversekering, afhangend van waar die stelsel ingesluit of gespesifiseer is.

Dis egter belangrik om direk by jou versekeraar duidelikheid te kry.    

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button