Vir die 30 pasiënte wat op 3 Oktober ná jare se wag weer kon sien, kon daar kwalik ‘n groter Kersgeskenk wees. Hulle was deel van die katarak-marathon wat op 3 Oktober by die Sebokeng-hospitaal deur dr. Cornelis Gouws en die teaterspan gedoen is.

Vir sommige het dié uitreik wat jaarliks gratis gedoen word, danksy die oop hand van borge, beteken dat hulle ná twee jaar en langer se wag uiteindelik weer kan lees, naaldwerk doen, studeer of teruggaan skool toe – of selfs om die droom van bloemis-wees, te kan uitleef.
Daar was ook ‘n 78-jarige dame vir wie die operasie beteken dat sy nou sal kan groente plant. ‘n Ander wat vir homself sal kan kook nadat sy vrou vroeër oorlede is. By hierdie pasiënte wat dié dag weer die gawe van sig gegee is, was daar groot dankbaarheid teenoor die span wat soos ‘n geoliede masjien gewerk het om elkeen van die 30 pasiënte te help wat andersins nie die geleentheid sou hê om die operasie te kon ondergaan nie.

Die katarak-marathon by Sebokeng was reeds dr. Gouws se tweede projek vir die jaar. Vroeër vanjaar is 15 pasiënte met die Dihlabeng katarak-marathon gehelp. Om ‘n katarak-dag te kan aanbied, of selfs geborgde karatak-marathons, verg groot organisasie, die passie van hulle wat hul tyd gratis beskikbaar stel en die ondersteuning van borge.
Borgskappe bly egter die sleutelwoord. Vir baie staatspasiënte beteken katarakte dikwels ‘n waglys en geen maklike proses om uiteindelik bo aan die lys te kom nie. Tot dan is dit ‘n donker wêreld vir hulle wat wag op ‘n kans om hul sig weer te kan herstel.
Die beste raad vir staatspasiënte wat kwalifiseer, is om al die nodige stappe te volg om op die waglys te kom vir die oogspesialis by deelnemende hospitale. Onthou dat as jy vir jou opvolgkonsultasie ná die prosedure na ‘n private praktisyn wil gaan, sal jy dit op eie koste moet doen. Die prosedure wat pasiënte moet volg om vir die marathons te kwalifiseer, is eerstens om die oftalmoloog by die staatshospitaal of deelnemende hospitaal te gaan sien, wat die diagnose sal maak. Jou naam sal dan op ‘n waglys geplaas word vir katarakchirurgie.
Sodra jy die chirurgie-datum kry, sal lensmetings gedoen word en sal jou oftalmoloog die afspraak bevestig. Na die chirurgie sal daar ‘n opvolg-afspraak wees en nóg ‘n afspraak ses weke later. Die datums moet ook met jou oftalmoloog bevestig word.
Die hele proses neem tyd en jy moet geduldig wees. Wees daarop voorbereid dat die waglyste lank is en dat verskeie faktore wagtyd kan beïnvloed.
* Dr. Gouws is ‘n wêreldklas chirurg wat in enige vorm van katarak-chirurgie en ooglaser behandeling spesialiseer. Hy het ook ‘n spesiale belangstelling in retina operasies en die hantering van enige ooglid probleem. Hy hanteer beide tipes gloukoom, en is passievol oor diabetiese oogsiektes.





