
Op ‘n raadsvergadering verlede Vrydag het die DA versoek dat die nuwe raad vrugtelose en onproduktiewe uitgawes ten alle koste sal verhoed, en sy onbenutte bates meer produktief sal aanwend. Ngwathe se vorige stadsraad het in Mei 2021 eenparig sy finansiële Taakspan opdrag gegee om te soek na kostebesparings sonder om in te boet op die gehalte van dienslewering, en maniere te vind om ‘n inkomste te verdien uit Ngwathe se talle onbenutte bates. Daarvan het egter nog niks gekom nie, sê die DA.
DA-raadslede het destyds planne gevra om ‘n inkomste uit onbenutte bates soos die Mimosa-tuine, Heilbron se ontspanningsoord en verhuurbare munisipale behuising en persele te verdien. DA-raadslid Arnold Schoonwinkel sê daar is entoesiastiese organisasies, van die Ontwikkelingsforum en Sakeliga, tot Parys in Aksie, Parys#Selfdoen, We Care, en diensgroepe soos Rotary, AfriForum en Parys Business Network wat die Ngwathe dorpe en gemeenskappe wil uitbou, bemark en bevorder. Die DA sou vandeesweek ook dié organisasies se insette vra.





