News

Groot skenking vir opleiding van versorgers

Die fondse wat ingesamel is, sal gebruik word om die tekort aan bekwame versorgers in Suid-Afrika aan te vul.

 

Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut het Donderdag 9 November ‘n suksesvolle Aand van Legendes met Hande wat Help by Sol-Tech in Monumentpark gehou. Die aand is spesifiek gehou om fondse in te samel vir die opleiding van geakkrediteerde versorgers en het ‘n bedrag van meer as R1 miljoen opgelewer.

Prominente sportsterre soos Vanes-Mari du Toit, Fourie du Preez, en Heinrich Ollie Terblanche het die aand spesiaal gemaak met hul teenwoordigheid en gaste met hul betrokkenheid geïnspireer. Gian Groen het as gaskunstenaar opgetree en Jaco van Dyk was die aanbieder.

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die geleentheid as ‘n groot sukses bestempel en sy dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het. “Versorg ‘n versorger – dit was die bedoeling van vanaand se funksie! Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut as deel van Helpende Hand het vanaand hande gevat met legendes. Dit was ‘n besonderse aand vol motivering en inspirasie,” het Noëth gesê.

Die fondse wat ingesamel is, sal gebruik word om die tekort aan bekwame versorgers in Suid-Afrika aan te vul. Met die Opleidingsinstituut wat reeds meer as 100 versorgers opgelei het, poog Solidariteit Helpende Hand om in die aanhoudende vraag na versorgers vir kwesbare mense en bejaardes in tehuise te voorsien.

Die aand het nie net op die gemeenskap se bydraes gesteun nie, maar ook op borge soos Solidariteit en die Virseker Trust. Solidariteit het R700 000 geskenk en die Virseker Trust R200 000.

Solidariteit Helpende Hand bly toegewyd aan die ontwikkeling en versterking van gemeenskappe. Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut sien uit na die groei van hul geakkrediteerde opleidingsprogram in die komende jaar en bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning tot dusver.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die aand as ongelooflik beskryf. “Dit is ‘n voorreg om te weet daar is meer as ‘n miljoen rand beskikbaar om ons versorgers te versorg,” het hy gesê.

Besoek gerus die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut se webwerf by www.helpendehandopleiding.co.za om ‘n bydrae te lewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button