Local newsNews

AfriForum lê kriminele klag teen munisipale bestuurder oor rioolstorting in Vaalrivier

Die verval van rioolaanlegte in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit staan boonop, volgens Grobbelaar, aan die kern van die huidige probleme in die Vaalrivierstelsel

Die burgerregteorganisasie AfriForum het nou ’n kriminele klag teen April Ntuli, munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, gelê en dring daarop aan dat Ntuli in sy persoonlike hoedanigheid vervolg moet word vir die storting van rou riool in die Vaalrivier in dié munisipaliteit. Dié grootskaalse storting bied onder meer ’n gunstige teelaarde vir verskeie indringerplantspesies, insluitende waterslaai (Pistia stratiotes), waarvan die voorkoms sedert einde verlede jaar kommerwekkend in die Vaalrivier toegeneem het.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, sleep die regering  voete met die waterslaaikrisis. “Alhoewel die regering al talle vergaderings met die gemeenskap belê het, vat hulle maande om spesifieke aksies vir die takeling van die probleem goed te keur. Uiteindelik kom dit telkens neer op die gemeenskap om hand in die sak te steek en self aan die werk te spring om dié natuurramp te beveg,” sê Grobbelaar.

Tydens ’n onlangse openbare vergadering het regeringsamptenare aangevoer dat die regering slegs R2 miljoen beskikbaar het om aan die Vaalrivierkrisis te spandeer. Dít ten spyte van die feit dat Barbara Creecy, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, in November verlede jaar ’n R2,6 miljard-program, “Working for Water”, bekendgestel het vir die beheer van uitheemse indringerspesies en die herstel van natuurlike habitatte, sê die organisasie.

Die organisasie sê die gemeenskap het sedert die begin van 2024 al meer as R6 miljoen spandeer in die bekamping van die waterslaaikrisis. Meer as 168 000 kubieke meter se waterslaai is sodoende uitgehaal en het vrywilligers meer as 80 dae op die Vaalrivier gewerk.

Grobbelaar benadruk dat die finansiering vir die verwydering van waterslaai in die Vaalrivier tot dusver grootliks uit die sakke van die gemeenskap gekom het.  Die eerste fase van bespuiting wat tans met Kilomax 700 WSG gedoen word, word ook deur die gemeenskap befonds. “Hoewel die spuit van onkruiddoder op waterslaai in die Vaalrivier wel onder die toesig van Rand Water gedoen word, wil ons graag sien dat die regering ook iets daadwerkliks begin doen om hierdie indringerplante uit die rivier te verwyder,” sê Grobbelaar.

Die verval van rioolaanlegte in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit staan boonop, volgens Grobbelaar, aan die kern van die huidige probleme in die Vaalrivierstelsel. “Grootskaalse besoedeling vind op ’n daaglikse basis in die Vaalrivier plaas en is die primêre oorsaak van die onbeheerde groei van waterslaai hier. Ons sal voortgaan om druk op die owerhede te plaas om rioolaanlegte reg te bestuur. Sodoende sal ons die sekondêre probleem, naamlik die groei van waterslaai, kan pak. Die gemeenskap takel tans die sekondêre probleem, maar die regering moet ook nou sy plig rakende die primêre oorsaak dringend nakom,” sê die organisasie.

Parys Gazette het onlangs ook berig oor rioolstorting deur die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. Volledige berig by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2024/04/19/skokkende-rioolstorting-by-ngwathe-se-pompstasies/

Lê ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK)

AfriForum het die publiek aangemoedig om klagtes rakende die storting van onverwerkte riool by die Menseregtekommissie (MRK) in te dien. “Burgers het die reg tot ’n skoon en veilige omgewing. Op die oomblik skend die regering daardie reg en moet tot verantwoording geroep word om dit reg te stel,” sluit Grobbelaar af.

Klagtes kan hier ingedien word: https://afriforum.co.za/waterslaai-in-die-vaalrivier/

Maak ’n bydrae

Lede van die publiek, ondernemings en organisasies wat by die waterslaaiprojek betrokke wil raak, kan ’n donasie maak. Geld wat hiervoor geskenk word, sal vir die finansiering van die waterslaai-skoonmaakaksie aangewend word. Die bankbesonderhede is soos volg:

Rekeningnaam: AfriForum NPC

Rekeningnommer: 623 4989 8398

Taknaam: FNB Centurion

Takkode: 261-550

Verwysing: Vaalrivier

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button