Skikking met tegniese direkteur bereik
Noudat 'n skikkingsooreenkoms bereik is moet die pos geadverteer word.

‘n Finale skikkingsooreenkoms is nou met Ngwathe se direkteur tegniese dienste, mnr. Malunga bereik vir vroeë diensbeeïndiging, is Maandag tydens ‘n raadsitting bekendgemaak. Luidens die ooreenkoms sal 12 maande se salaris aan hom betaal word. Mnr. Malunga se kontraktermyn sou eers op 30 Oktober 2025 vertryk het.
Hy was aanvanklik tydelik geskors hangende ‘n ondersoek, maar het sy tugverhoor nooit plaasgevind nie weens ‘n gebrek aan samewerking van getuies. Die klagte teen mnr. Malunga het verband gehou met pligsversuim en versuim om wettige opdragte uit te voer.
Volgens ‘n vorige raadsnotule was mnr. Malunga kort nadat hy toe weer op kantoor was, aangeval en het hy daarna aangedui dat hy vrees vir sy veiligheid by die werk.
Gevolglik was hy sedert September 2023 nie weer op kantoor nie, maar het sy volle salaris ontvang.
Noudat ‘n skikkingsooreenkoms bereik is moet die pos geadverteer word.
Die raad het Maandag die besluit geneem dat mnr. Mxolisi Pali intussen sal waarneem in die pos as tegniese direkteur totdat ‘n permanente aanstelling van ‘n geskikte kandidaat gemaak is. Hy is sedert 2020 Ngwathe se bestuurder van infrastruktuur bepanning en sanitasie.
Hoewel die munispaliteit se tegniese afdeling vyf bestuurders het, het slegs mnr Pali aangedui dat hy beskikbaar is vir oorweging om in die pos waar te neem.
Opposisiepartye het Maandag in die raad hul kommer oor die aanstelling uitgespreek, maar is die voorstel nie teengestaan nie, in die lig daarvan dat daar geen ander beskikbare kandidate tans is nie.
In mnr Pali se CV word onder meer aangedui dat hy 19 jaar se ervaring in munisipale infrastruktuur en water en afvalwater bestuur het.



