Tien dae nadat die 5-jarige Keith Sithole van die Tumahole-woonbuurt by Parys, vermis geraak het, is daar steeds geen teken van haar nie.
Klein Keith het soek geraak kort nadat sy op 11 Oktober omstreeks 13:20 van die skool af huis toe gekom het. Sy is ‘n graad R-leerder van Aha Setjhaba.
Sy het haar ma, Kelly gevra om ysies te gaan koop by een van die buurhuise na aan haar woning. Toe daar nie ysies was nie, is sy na ‘n nabygeleë winkel binne ‘n kilometer radius van haar ouerhuis waar sy die ysies gekry het. Sy is daarna nie weer gesien nie.
Keith het ‘n swart rokkie met groen blomme en swart skoene ten tyde van haar verdwyning gedra.
Sy was nie ‘n kind wat sommer net rondgeloop het nie, het haar ma aan Gazette gesê.
Die familie het sedert haar verdwyning na haar gesoek en haar op 12 Oktober as vermis by die Tumahole-polisiestasie aangemeld. Sedertdien is geen steen onaangeraak in die soektog na haar nie.
Verlede week het lede van die gemeenskap saam met die polisie te voet na haar gesoek, en het lede van die Welkomse honde-eenheid, en die polisie se lugvleuel van Bloemfontein ook gehelp met die soektog.
“Ons sal nie ophou soek tot ons haar gekry het nie,” het lt-kol Juanita J. van Rensburg, stasiebevelvoerder van die Tumahole-polisiestasie gesê.
Die polisie het intussen ‘n R25 000 beloning uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle opsporing van Keith, of sou daar ‘n misdaad gepleeg wees, die suksesvolle vervolging van die skuldiges. het polisiewoordvoerder sers. Josephine Rani gesê.
Enigeen met inligting word gevra om die Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredingseenheid in Tumahole se speur-sers. Noliyiswa Masondo te skakel by 082 049 5208, ao Kgayane by 071 891 4321, Keith se ma by 078 705 7487 of die bure, Keke Theletsane by 079 864 0378.
Inligting kan ook by die Tumahole of Parys polisiestasies deurgegee word. Alternatiewelik kan die Stop Misdaad nommer geskakel word by 08600 10111, of laat ‘n anonieme wenk op die MySaps selfoontoepassing.
