Luiperds gly teen die arende
Jonathan Mokuena se Luiperdspen kan maar net nie hulle voete vind in die provinsiale liga nie. Die liga dien ook as kwalifisering vir die Curriebeker.

Jonathan Mokuena se Luiperdspen kan maar net nie hulle voete vind in die provinsiale liga nie. Die liga dien ook as kwalifisering vir die Curriebeker.
Na drie wedstryde in die liga het die Luiperds net 6 ligapunte. Daarteenoor het die SWD Arende na drie oorwinnings reeds 14 punte. Grens het ook drie wedstryde gewen en het ook 14 punte. Daar was ook reeds twee oorwinnings elk vir die Boland en die Griffons.
Die Luiperds is in hierdie benarde posisie na hulle verlede Woensdag in George teen die Arende verloor het. Die Luiperds het die vroeë voortou geneem na twee Rhyno Smith strafskoppe maar die tuisspan het die voortou in die 14e minuut geneem met ‘n doel en dit behou tot aan die einde. Na twee strafskoppe loop hulle 13-6 voor voor die Luiperds na vele aanslae op die Arende doellyn uiteindelik ‘n drie druk toe Wilmar Arnoldi oor storm. Rustyd breek aan met die Arende 13-11 voor.
Na rustyd rek die telling na 19-11 voor Adriaan Vermeulen gaan druk, Smith verdoel en daar is net een punt verskil: 19-18. Die tuisspan behaal nog ‘n sewepunter en loop 26-18 voor. Met die stophorlosie op 80 minute slaag Smith met ‘n strafdoel en toe volg ‘n ongelooflike reeks aanvalle deur die Luiperds toe hulle die bal deur 27 fases neem maar die Arende se verdediging hou en die eindfluitjie blaas met die telling op 26-21.
Die Luiperds speel Saterdag 7 Mei op die Weermagstadion in Potchefstroom teen die Boland Kavaliers. Die afskop is om 14:30.



