Local news

Omstrede boek lig sluier oor beweerde wanadministrasie en korrupsie agter die skerms by Midvaal-munisipaliteit

Die Meyertonse politikus Kobus Hoffman lig in sy omstrede nuwe boek Fluitjieblaser of Doofstomme die gebeure uit wat hy meen tot sy skorsing uit die DA in 2009 gelei het en ontbloot al die intriges, rugstekery en manteldraaiery wat gedurende sy stormagtige tyd in die binnekamers van die Midvaal-stadsaal afgespeel het. Die boek wat 'n

Die Meyertonse politikus Kobus Hoffman lig in sy omstrede nuwe boek Fluitjieblaser of Doofstomme die gebeure uit wat hy meen tot sy skorsing uit die DA in 2009 gelei het en ontbloot al die intriges, rugstekery en manteldraaiery wat gedurende sy stormagtige tyd in die binnekamers van die Midvaal-stadsaal afgespeel het.

Die boek wat ‘n paar weke gelede uitgereik is, diep geraamtes op, looi Midvaal-politici en amptenare vir die wyse wat hulle opgetree het (of nie opgetree het nie) en is besig om ‘n opskudding in die DA-beheerde Midvaal Plaaslike Munisipaliteit te veroorsaak.

Hoffman klim in die boek kaalvuis in onder politieke figure – plaaslik en nasionaal – wat volgens hom destyds deel was van ‘n politieke toesmeerdery en wys ook vinger na die Demokratiese Alliansie as politieke party wat die ander pad gekyk het toe korrupsie en wanadminstrasie onder hul neuse gebeur het.

“Ek sou graag voor in hierdie boek wou skryf: ‘Alle karakters en gebeure is denkbeeldig.’ Soos in die flieks en stories. Maar dit is ongelukkig ‘n greep uit my lewe wat ek met jou deel. En die karakter is real. Pynlik werklik,” skryf hy.

Hoffman vertel in die boek hoe hy uit die party geskors en byna alles verloor het kort nadat sy pad “met ‘n sage van korrupsie gekruis het” en hy die fluitjie geblaas het.

Hy was ook die teiken van ‘n smeerveldtog.

“Ek skryf hierdie boek, want ek wil hê mense moet verstaan wat met my en my dorp gebeur het. Miskien wil ek dit later lees en self ook verstaan. Dalk wil ek die seer oopkrap met dié geskryf en etter laat uitloop. Dalk is die boek ‘n pleister. Dit is nie ‘n selfsugtige boek oor hoe ‘n oulike outjie ek is nie. Dis ‘n boek waaruit ek hoop mense kan leer,” skryf Hoffman in die sewende hoofstuk van sy boek.

Die DA het Hoffman in 2009 in die pad gesteek oor agterstallige erfbelasting en oor hy ‘n verleentheid vir die party geword het, maar Hoffman meen dit was alles net ‘n rookserm om hom by te kom nadat hy die fluitjie geblaas het.

Buiten sy politieke loopbaan wat in daardie stadium in skerwe gelê het, skryf Hoffman dat sy loopbaan as ontwikkelaar ook onder sy fluitjieblasery gely het deurdat hy skielik nie meer Artikel 38-toestemmingsbriewe by die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit kon kry nie. Gevolglik kon hy nie erwe laat onderverdeel nie en is sy keel as ontwikkelaar afgesny. Hy het hy miljoene verloor.

‘n Reeks slegte goed het gebeur en kort voor lank het Hoffman en sy vrou hul inkomstes verloor.

Die storie begin toe Hoffman in 2006 as DA-wyksraadslid vir Riversdal, Kookrus en Rothdene tot die stadsraad verkies is.

Hy is later tot die burgemeesterskomitee verkies, maar nadat hy sy stem dik gemaak het oor verskeie kwessies het hy besef dat hy hom in ‘n veld van klitsgras bevind.

Eers was daar die kwessie van ‘n nuwe winkelsentrum ter waarde van R550 miljoen wat in Midvaal opgerig sou word. Nadat Hoffman begin krap het oor sommige raadsledese se angstigheid om die sentrum tussen Henley-on-Klip en Golfpark te laat bou, terwyl inwoners van die gebied tussen Riversdal en Kookrus dit nodiger gehad het, het Hoffman se gewildheid volgens hom dramaties afgeneem. Sy eie motiewe is bevraagteken en die gemoedere het teen hom gedraai.

Dan was daar die kwessie van die vorige burgemeester Marti Wenger (huidiglik verteenwoordiger van die DA in parlement) wat volgens Hoffman palmbome uit ‘n private individu se erf na haar eie private eiendom laat verplant het en sodoende die toerusting en personeel van die raad misbruik het. (Wenger sou later aanvoer dat sy nie permissie daarvoor gegee het nie en dat sy ook nie bevoordeel is nie).

Hoffman skryf in sy boek dat hy die kwessie “ewe goedgelowing” onder die aandag van Timothy Nast, vorige speaker van die DA en later burgemeester, gebring het met die verwagting dat hy dit sou ondersoek.Die saak is volgens Hoffman onder die mat gesmeer en daar kon glo nie bewyse gevind word nie.

“Wil jy weet watter groot moeilikheid het hierdie astrante outjie toe? Probeer bietjie by jou volgende werksvergadering beweer jou grootbaas is skuldig aan ongerymdhede. GROOT MOEILIKHEID, sal ek jou sê,” skryf Hoffman.

Die finale spyker in Hoffman se doodskis by die DA was volgens hom toe hy ondersoek ingestel het rondom André Odendaal, die raad se prokureur vir die afgelope 30 jaar, invorderaar van agterstallige erfbelasting, afslaer van eiendomme met agterstallige erfbelasting, asook die voorsitter van die DA in Midvaal se bedrywighede.

Odendaal se mag op Meyerton het Hoffman ongemaklik laat voel en hy het vermoed dat miljoene rande besig is om uit die raad se beursie weg te raak.

In die boek verduidelik Hoffman hoe mense wat agterstallig is met hul skuld opgespoor en aangeskroef sou word deur Odendaal se opsporingsmaatskappy. “Hul word dan voor ‘n keuse gestel: Of hulle moet dadelik die agterstallige deld betaal plus regskoste daarop, of hulle kan die erwe aan Midvaal stadsraad terug skend.”

Die lys van geskenkte erwe is volgens Hoffman aan die hoof van finanises, Albert de Klerk, gestuur wat die skenkings aanvaar het, die aanvaardingsdokument aan Odendaal se prokureursmaatskappy gegee het en opdrag gegee het om die eindomme op die raad se naam oor te dra. Sommiges het op Odendaal se naam beland.

Die boek maak meldeing van eiendomme wat vir so min as R5 000, R50, R240, R10 in Odendaal se naam gerigestreer is.

‘n Verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid het later komnmer oor Odendaal se mag in die dorp uitgespreek: “Die uitgebreide aanwending van een diensverskaffer as die enkele of primêre diensverskaffer vir regsdienste, skuldinvordering en afslaers vir meer as 30 jaar, in omstandighede waar die diensverskaffer ‘n onregverdige voordeel bo ander voornemende diensverskaffers verkry het deur toegang tot inligting en invloed te hê oor verkrygingsinstrumente, kom neer op ‘n skending van die letter en gees van artikel 217 van die Grondwet sowel as die bepalings van die Raamwerkwet op Voorkeurverkrygingsbeleid, 2000. dit kom neer op wanadministrasie.”

Die boek bevat ook stawende dokumentasie sekere bewerings wat gemaak word.

Hoffman wys in sy boek ook vinger na die voormalige DA-leier Helen Zille wat volgens hom die ander pad gekyk het nadat Hoffman dokumente oor die beweerde ongerymdhede in aan haar verteenwoordiger oorhandig het.

*Die boek word deur Ns. Skrywershuis uitgegee. Besoek hul webwerf by www.nskrywershuis.co.za vir meer inligting

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button