Vir so baie wat oor jare vir raad en hulp by dr. Martie (Hattie) Strydom aangeklop het, was sy meer as net ‘n sielkundige. Haar omgee-hart het dikwels gehelp, sonder dat ‘n rekening ooit gestuur is. Sy was iemand met ‘n ongelooflike toegewydheid tot haar beroep. Veral kinders was baie na aan haar hart. Haar deernis, innemende glimlag, en sagte hart, het ‘n indruk gemaak op elkeen wat agter tannie Hattie se lessenaar sou sit – oud of jonk, by kleuterskole en skole – waar sy ookal gekom het.
Op Saterdag 7 Januarie is Hattie, sag en stil soos sy geleef het, in die ouderdom van 84 jaar aan ‘n hartaanval in Potchefstroom oorlede.

Hattie en haar suster, Ria, het vir bykans 20 jaar by Ria se dogter, Elrinet, in Potchefstroom gewoon waar sy tot haar dood met liefde versorg is.
Hattie is op 4 November 1938 in Parys gebore. Sy het op die plaas Oudewerf grootgeword as een van 4 dogters van Willie en Stienie Strydom.
Sy het in Parys skoolgegaan waar sy in haar matriekjaar verskeie onderskeidings behaal het in onder meer Afrikaans en Duits.
Ná matriek studeer sy Afrikaans en sielkunde aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus.
Haar uitnemende prestasies as student is beloon met volle beurse vir haar studies.
Nadat sy haar doktorsgraad in sielkunde verwerf het, begin sy haar loopbaan as Afrikaanse onderwyseres by Hoërskool Ferdinand Postma, maar het ná ‘n paar jaar, vir die destydse TOD (Transvaalse Onderwys Departement) begin werk as kindersielkundige.
Sy het haar loopbaan grotendeels daaraan gewy om kinders met sielkundige probleme te help.
Selfs na haar aftrede het sy voortgegaan om steeds kinders in Parys en Potchefstroom te help.
Haar onselfsugtige liefde vir ander, opregtheid en nederigheid waarmee sy geleef het, sal altyd onthou word.
Hattie word orleef deur haar suster, Ria, niggies en nefies.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!