Local news

Covid was nie ‘n ‘patch’ teen beurtkrag nie

Jy hoor die hartseer in haar stem as sy vertel van drie dekades wat die tuisnywerheid deel van haar lewe was.

“As ek 40 was het ek dit dalk nog oorweeg om elke dag ‘n kragopwekker rond te sleep.” Maar op 65 het Susan Muller finaal besluit, tot hiertoe en nie verder nie. Einde Maart sluit sy die Byenes tuisnywerheid in Philipstraat die laaste keer. Die voortslepende krag- en waterkrisis wat voorafgegaan is deur onder meer Covid, het dit vir haar onmoontlik gemaak om voort te gaan.

“In Covid het ons swaar getrek, maar dit was nie ‘n ‘patch’ teen beurtkrag nie,” sê sy.
Jy hoor die hartseer in haar stem as sy vertel van drie dekades wat die tuisnywerheid deel van haar lewe was.
“Dit was nie vreemd vir my om net na 07:00 ‘n oproep te kry van besighede, die munisipaliteit, of selfs kleuterskole met bestellings vir geroosterde toebroodjies. Op reënerige dae was dit pannekoek waarvoor hulle sou vra.” Die dorp het nie toe soveel restaurante gehad nie. Tuisnywerhede was min. Waar sy nou vanuit haar winkel die Pick n Pay-sentrum sien, was vroeër niks gewees nie. Ook nie ‘n Spar of ‘n Choppies toe sy destyds in 1992 die tuisnywerheid by Marien de Bruyn gekoop het nie.
Aanvanklik het Susan voordat sy die tuis- nywerheid gekoop het, kleinkoekies gebak, en skilder- en pottebakkerswerk gelewer vir Byenes. Vir ‘n 1kg se kleinkoekies sou jy net omtrent R10,60 se wins in jou sak kon steek, vertel sy.

Susan Muller wat na 30 jaar genoodsaak is om weens beurtkrag haar tuisnywerheid se deure te sluit.

Nadat sy die tuisnywerheid gekoop het, het haar twee hande bykans alles wat in die tuisnywerheid verkoop is, gebak. Soms tot sowat 300 koeke in ‘n maand. Naas die gebak het kruie, speserye en bakbestanddele die tuisnywerheid se rakke volgemaak. Later het partytjiegoed bygekom. “Ons parties het gerock,” voeg sy dan met ‘n glimlag by.
Sy onthou toe kerkbasaars in die dorp nog in die stadsaal gehou is. Soos haar ma geglo het, glo sy ook jy gee jou bydrae vir die kerkbasaar. Deesdae leef sy haar omgee vir die dorp en sy mense uit by die Amot Tehuis vir bejaardes waar sy elke jaar sorg vir die mooi versierde Kersbome wat jy oor Kerstyd oral by Amot sien.
Haar kinders, Karin en Tiaan, was klein toe die tuisnywerheid deel van hul lewens geword het. Menige dae en nagte het hulle saam met Susan omgesweet voor die stowe se hitte. Soos hul groter geword het is daar ’til geslaan’ smiddae, oor naweke en in vakansietye. “Die onmenslik warm Desembers het altyd gepaard gegaan met die skryf van prysetikette tot jou vingers wil afval. En 23 Desember is jaar op jaar tot vroegoggend ure gebak en versier om vir soveel moontlik huise ‘n koek vir Kersmiddag te kon gee.”
In Covid-tyd moes sy die tuisnywerheid se deure die eerste keer vir twee maande sluit. Toe sy uiteindelik kon oopmaak, het dit goed gegaan.
Toe begin daaglikse beurtkrag.
“Ek het die swakste Desember in my 30 jaar by die tuisnywerheid gehad.”
“Die week tussen Kersfees en Nuwejaar was daar soms vir net twee ure gedurende die dag krag.”
Om al haar oonde en yskaste van krag te voorsien sal tussen R150 000 en
R200 000 kos. Dit regverdig nie die koste nie, sê Susan.

“Mense vra of ek nie saans kan bak nie, maar dit is nie grappies nie. Wanneer die krag af is, is dit ook by die huis af.
“Vir drie jaar was daar nie water by die toilette wat die sentrumhuurders waar die tuisnywerheid is, moet gebruik. Dan loop jy met emmers en dra water aan. Toe vind hulle uit iemand het die water toegedraai. Wanneer daar nou water is, is dit meestal té vuil om te gebruik.
Oor die jare het ander tuisnywerhede oopgemaak in die dorp, maar elkeen kon ‘n bestaan maak, sê Susan.
Maar nou is die uitdagings net té veel.
Sy wil gaan rus. Haar panne neersit om tyd saam met haar kleinkinders te spandeer, sonder die bekommernis van wanneer sy die oonde kan aansit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button