Ontbinde liggame van vrou en kind ontdek
Die verdagte het op aanklag van dubbelmoord in die Reitz-landdroshof verskyn.
Twee ontbinde liggame, vermoedelik van ‘n ma en haar kind, is Oujaar in ‘n huis naby Lindley ontdek.
Adjunk-offisier Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 22:00 nadat bure die reuk en vlieë opgemerk het, ontbied. Met aankoms by die huis was dit gesluit en daar is na die eienaar gesoek. Na bewering het hy nie meer op die perseel geslaap nie en sy voertuig was buite die hek parkeer. Die eienaar het glo geweier om die deur, wat gesluit was oop te maak.
Die polisie het deur ‘n venster gekyk en op ‘n ontbinde liggaam onder ‘n kombers op die vloer afgekom. Die liggaam van ‘n kind was ook onder die kombers gevind.
Volgens voorlopige ondersoek kan die liggame moontlik dié van ‘n familie in Mamafubedu, naby Petrus Steyn, wees.
‘n Ma het aangemeld haar dogter en kleindogter het na bewering op 22 Desember die pa van die kind gaan besoek en hulle is nooit weer gesien nie.
DNS-toetse sal vas stel of die ontbinde liggame wel die van die ma en dogter is. Die oorsaak van die twee persone se dood is nog onbekend.
Die verdagte het op aanklag van dubbelmoord in die Reitz-landdroshof verskyn.



