NewsNews

Kyk wat sê Netwerk 24 oor Staatsrede

Willem Jordaan , redakteur van Die Burger, berig vandag op Netwerk 24 die volgende 10 punte wat jy moet weet oor gister, 9 Februarie, se staatsrede:

// , redakteur van Die Burger, berig vandag op Netwerk 24 die volgende 10 punte wat jy moet weet oor gister, 9 Februarie, se staatsrede:

Die sogenaamde withemde raak slaags met EFF-LP’s in die Nasionale Vergadering voordat pres. Jacob Zuma sy staatsrede gelewer het.Foto: lulama ZENZILE

1. Radikale transformasie

//

Die idee is niks anders nie as ’n populistiese vernissie wat Nommer Een nou oor sy en die ANC-regering se volslae rigtingloosheid op ekonomiese gebied wil verf. Naas ’n paar breë kwasstrepe het presiese besonderhede oor wat radikale ekonomiese transformasie sal behels, grootliks ontbreek.

Dié voortdurende rigtingloosheid het in ’n groot mate te make met Zuma se onwilligheid om die uitstekende Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) tot uitvoer te bring. Die voortbestaan van sekere strukturele ekonomiese ongelykhede van apartheid, waarna Zuma ook in die staatsrede verwys het, tesame met die noodsaak vir versnelde groei, was juis van die redes waarom die NOP onder leiding van adj.pres. Cyril Ramaphosa en oudminister Trevor Manuel gestalte gekry het. Sedertdien het Zuma langtand gebyt aan die plan en hoofsaaklik lippediens daaraan bewys.

Dis bes moontlik omdat die NOP nie deur Zuma-apparatsjiks in Luthuli-huis ontwikkel is nie. Die proses was eerder een van die inklusiefste tot nog toe uit regeringsgeledere en juis dít het gelei tot die geloofwaardigheid waarmee die plan begroet en deur bykans almal behalwe die Zuma-kliek omarm is. Hierteenoor is dit heeltemal duister van wie presies Zuma praat as hy sê die ganse sakegemeenskap het die noodsaak vir sy radikale ekonomiese transformasie ingesien en aanvaar.

Daar was natuurlik ook al twee vorige pogings deur Zuma om die NOP van die agenda te stoot met ander onbekookte planne – daar was eers “die tweede fase van die revolusie” wat toe later afgewater is na “die tweede fase van oorgang”. “Radikale ekonomiese transformasie” verteenwoordig nou nóg ’n poging tot skuldverplasing met die idee dat die ekonomie steeds deur dié ou orde volledig gevange gehou word.

Bowendien, vir enige “radikale ekonomiese transformasie” om te slaag, verg hoogs bekwame leierskap, ratse regeringsinstellings en doeltreffende staatsbestuur. Onder Zuma ontbreek al drie in Suid-Afrika. Zuma gaan dus nie ver kom met hierdie een nie, veral gegewe sy gebrekkige steun in eie geledere.

2. Versnelde grondhervorming

Ná die loesing wat Zuma se ANC verlede jaar by die stembus gekry het, lyk dit of hy (nes Zanu-PF) in die aanloop tot 2019 se nasionale verkiesing grond wil gebruik om stemme te koop.

Maar laat ons nie doekies omdraai nie – die ANC-regering se grondhervormingsplan het klaaglik misluk, nie weens hardkoppigheid van boere en grondeienaars nie, maar hoofsaaklik weens administratiewe onbeholpenheid en ’n verkwisting van beskikbare geld aan regeringskant. Terwyl die regering hom voorheen ten doel gestel het om teen 2014 sowat 30% van die landbougrond oor te dra, het hy na raming net 8% bereik, terwyl die sowat R30 miljard wat op grondhervorming uitgegee is, genoeg sou wees om na raming sowat 37% van die landbougrond te koop.

Daar is géén aanduiding dat die onbeholpenheid aan regeringskant op ’n einde is nie.

Intussen ly boere nou al meer as twee dekades onder ministers wat nie reguit praat nie en al male sonder tal die doelpale verskuif het terwyl daar van die een onbekookte plan na die volgende gestrompel word.

Daar is géén aanduiding dat die onbeholpenheid aan regeringskant op ’n einde is nie. As sulks beteken versnelde grondhervorming deur onoordeelkundige onteiening bloot versnelde aftakeling van die landboubedryf en voedelsekerheid.

Ons het al beurtkrag gehad – hierdie plan kan die weg baan vir beurtkos.

3. Gaap, wéér die negepuntplan

Daar is nogmaals weggekruip agter die moeë “negepuntplan” wat eintlik maar net ’n sameflansing van algemeen bekende versugtinge en bestaande projekte is.

Nadat Zuma in September verlede jaar in vraetyd net een van die nege punte van die veelgeroemde negepuntplan kon onthou, is daar waarskynlik min mense wat hom nog ernstig opneem as hy oor dié plan praat.

Aan praktiese, uitvoerbare planne met ’n duidelike tydsraamwerk – juis dít waardeur die Nasionale Ontwikkelingsplan eintlik beslag moet kry – het die toespraak (nogmaals) uiters mank gegaan.

In dié opsig is alle aandag nou gevestig op Pravin Gordhan se begrotingsrede op 22 Februarie, waar die eintlike besigheid hopelik gepraat sal word.

4. Waar is die visie?

As Zuma gisteraand net ná sy staatsrede ’n begripstoets moes skryf oor wat hy pas voorgelees het, sou hy dit besmoontlik dop.

As Zuma gisteraand net ná sy staatsrede ’n begripstoets moes skryf oor wat hy pas voorgelees het, sou hy dit besmoontlik dop. Uit die nogmaals stotterende voordrag van die toespraak wat ander vir hom geskryf het, blyk dit dat dit vir hom maar net woorde op papier is. Nogmaals geen drif, nogmaals geen dringendheid by ’n president wat nou eintlik maar net in naam die president is.

Dit was reeds sy 10de staatsrede, maar hy toon gewoon geen verbetering in sy gebruiklik siellose aflewering nie. Maar waarom sou dit wees? Sy belang lê by homself en sy eie toekoms – nié by dié van die land nie.

5. Die chaos in die NV

Die Suid-Afrikaanse Grondwet – ’n dokument waarvoor baie bloed vergiet is – lê weer verfrommel op die vloer van die Nasionale Vergadering.

Te midde van die hoogs ongehoorde ontplooiing van die weermag om reg en orde te handhaaf, het die DA in protes uitgeloop. Daar is inderdaad steeds geen aanduiding of die president die grondwetlike en ander vereistes vir die ontplooiing van die weermag nagekom het nie. Zuma self het geen aanduiding gegee wat sy oorwegings was met die ontplooiing van die weermag nie.

Verder is dit skreiend dat ’n party soos die EFF, met sowat 6% steun, die parlement op só ’n wyse kon ontwrig. Maar dit is egter ewe skreiend dat ’n meerderheidsparty met 62% steun ’n president in sy amp hou nadat hy sy ampseed en die Grondwet versaak het.

Hoeveel respek het hy vir sy amp as hy nie ’n enkele woord gerep het oor die chaos wat voor sy oë en in sý naam afgespeel het nie?

Hier is die belangrike punt: Dit is waar dat ten minste die amp van die president gerespekteer moet word en dat hy nie op amptelike geleenthede uitgejou behoort te word as enigiets van ’n “tsotsi” tot ’n “constitutional delinquent” nie. Dié pleidooi om respek aan die belangrike amp te betoon, moet egter eweneens aan Zuma se adres gerig word.

Hoeveel respek het hý immers vir sy amp as hy sy ampseed en die Grondwet minag? Hoeveel respek het hy vir sy amp as hy nie ’n enkele woord gerep het oor die chaos wat voor sy oë en in sý naam afgespeel het nie? Hy het bloot sy kenmerkende hê-hê-hê-laggie laat hoor en toe eenvoudig sy staatsrede voorgelees. Duidelik het die implikasies eenvoudig nie tot hom deurgedring nie.

Die daaropvolgende internasionale verleentheid is nie soseer Zuma s’n nie (beskik Zuma enigsins oor die kapasiteit vir verleentheid?), maar wel ’n verleentheid vir sy amp en vir Suid-Afrika.

Is dit nie maar nogmaals die verhaal van sy presidentskap nie? Persoonlike tekortkominge wat ’n nasionale verleentheid word.

6. Die rol van die Speaker

Nadat Baleka Mbete, die Speaker, nogmaals beheer oor die verrigtinge verloor het, moes Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, wéér die leisels by haar oorneem. Sy het, soos voorheen, met veel groter waardigheid en deurdagtheid as Mbete opgetree, maar kon uiteindelik ook nie die rooi golf van protes stuit nie. Mbete het haar rokspante weer wyd gespan om die president te beskerm en weer die withemde ingestuur om die oproerige EFF-lede te verwyder nadat hulle geweier het om die NV te verlaat.

Die verskoning aan lede van die publiek in die openbare galery is ook aan Modise oorgelaat terwyl Mbete, pruilend, kop omlaag gesit het.

Onder Mbete as Speaker sal die parlement ’n verswakte instelling bly en nooit sy rol as toesighouer oor die uitvoerende gesag na behore speel nie.

7. Wat Zuma nié gesê het nie

Veral wat betref die krisis in die onderrig het Zuma se staatsrede mank aan idees gegaan.

Verder staan Suid-Afrika aan die vooraand van ’n enorme krisis omdat die voortgesette betaling van welsyntoelaes weens hopelose wanbestuur in die tenderproses en ’n magstryd agter die skerms in gedrang gekom het. Zuma het geen aanduiding gegee hoe ’n oplossing voor 1 April gevind gaan word nie.

Hy het die gebruiklike gesê oor die regering se erns met die stryd teen misdaad. Maar nogmaals het hy niks gesê oor die nasionale vervolgingsgesag wat besig is om uitmekaar te val nie, hoofsaaklik omdat die president dit sy hooftaak gemaak het om die 783 korrupsieklagte teen hom uit die hof te hou.

Dat Zuma niks gesê het oor die beoogde kernkragkontrak met Rusland nie, was opmerklik. As dit maar ’n aanduiding was dat dié rampspoedige idee ’n stille dood gesterf het.

8. Wie gaan hoes?

Zuma het van ’n verskeidenheid nuwe projekte gepraat en net losweg gesê die geld daarvoor sal iewers gevind moet word. Daar is nie enige vet in die begroting nie, en die regering se verkwisting van staatsgeld gaan ook nie voor Zuma se vertrek ophou nie. Wag daar dus nog hoër belastings vir Jan en San Alleman?

9. Verouderde syfers

Groot gedeeltes van Zuma se toespraak het berus op erg verouderde syfers. Só byvoorbeeld sal hy nog sy woorde moet eet wat betref wit eienaarskap in die ekonomie en van grond.
10. Die nasionale gesprek

Die versoeking is seker groot om die gebeure in die Nasionale Vergadering af te maak as ’n stukkie goedkoop vermaak. Die feit is egter dat die vlak van nasionale debat met elke vloekende, skreeuende botsing tussen die regerende party en die opposisie ernstige skade ly. Met die opmerklike afwesigheid van pligsbesef by baie van ons leiers om die nasionale debat gesond te hou, rus daardie verantwoordelikheid toenemend by my en jou in die straatjies en gangetjies van die alledaagse lewe. (Met erkenning aan Netwerk 24 en Willem Jordaan).

* Jordaan is redakteur van Die Burger.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button