NewsNews

Derde verdrinking in net 8 dae

Parys – Die liggaam van ‘n man in sy  laat twintigerjare is gisteraand (Dinsdag 20 Februarie) deur adj. Swart en sy span van die polisie se Vaalrand-duikeenheid, uit die Vaalrivier by die Mimosa Tuine gehaal. Sy identiteit is nog nie bekend gemaak nie. Dit was reeds die derde verdrinking in Parys in net 8 dae. …

Parys – Die liggaam van ‘n man in sy  laat twintigerjare is gisteraand (Dinsdag 20 Februarie) deur adj. Swart en sy span van die polisie se Vaalrand-duikeenheid, uit die Vaalrivier by die Mimosa Tuine gehaal. Sy identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

Dit was reeds die derde verdrinking in Parys in net 8 dae. Dinsdag 13 Februarie is die liggaam van Sebusiso Mathe, ‘n graad 4 leerling van Dome Primary School, uit die Vaalrivier naby die hangbrug gehaal. Op Vrydag 16 Februarie het die 6-jarige Louis Kleynhans in ‘n swembad by sy ouerhuis in Witstinkhoutlaan verdrink.

Inwoners in die omgewing van die hangbrug het ná verlede week se verdrinking in die Vaalrivier ‘n ernstige pleidooi tot die Ngwathe munisipaliteit gerig om waarskuwingsborde by die hangbrug aan te bring om veral kinders te waarsku teen die gevare daaraan verbonde om in die rivier te swem. Mense misgis hulle dikwels met die stroomversnellings en is die rivier baie gevaarlik veral in tye wanneer daar verhoogde watervloei is. Alkoholgebruik langs die rivieroewer skep ook ‘n gevaar wanneer mense minder bedag is op waterveiligheid.

Die afgelope twee jaar was daar reeds verskeie verdrinkings spesifiek by die hangbrug en het dit dringend nodig geword dat veral kinders by skole ook ingelig sal word oor die moontlike gevare wanneer daar in die rivier geswem word.

Die polisie se watervleuel in Parys herinner mense aan die volgende:

1. Respekteer water en hou die gevare daarvan in gedagte.

2. Let op waarskuwingstekens waar daar water is hetsy by riviere, mere of by swembaddens en gehoorsaam die reëls.

3. Maak seker van weersomstandighede voordat jy gaan swem.

4. Maak seker jy vertel iemand waarheen jy gaan en wanneer jy terugkom as jy gaan swem.

5. Weet waar om hulp te kry indien nodig.

6. Alkohol en waterveiligheid gaan beslis nie saam nie. Alkoholgebruik tas jou vermoë aan om te kan oordeel, jou krag sowel as jou stamina. Dit is onverantwoordelik om ander se lewens in gevaar te stel.

7. Moenie op die rand van ‘n rivier of dam loop nie.

8. As jy nie opgelei is in lewensredding of reddingstegnieke nie, gebruik ‘n stomp of boomtak om iemand wat in die water in gevaar verkeer, te help en ontbied dadelik hulp, eerder as wat jy self probeer om die persoon te red.

9. Buitebande en opblaasmatrasse is baie gevaarlik in die water omdat dit ‘n vals sin van sekuriteit en veiligheid skep.

10. Die gevaarlikste tyd by ‘n piekniek is die tyd wat jy daar aankom, wanneer ouers besig is om uit te pak en kinders kan afdwaal om die omgewing te gaan verken. Water se aantrekkingskrag is meestal onweerstaanbaar vir kinders.

11. Selfs by die huis kan dit die gevaarlikste plek wees vir jong, avontuurlustige kinders wat geen of min vrees het vir water.

12. Jong kinders moet liefs altyd onder toesig wees wanneer hulle naby water is, selfs met badtyd.

13. Daar moet ‘n veligheidsheining om jou swembad by jou huis, en ander potensieel gevaarlike plekke wees.

14. Maak baddens, wasbakke en ander houers met water dadelik leeg ná gebruik.

15. Maak emmers met vloeistof baie dig toe en hou buite bereik van kinders.

16. Kinderswembaddens wat nie gebruik word nie, moet leeg getap word.

17. Maak wasmasjiene toe.

  • Dankie aan die SAPD en spesifiek Vaalrand Duikeenheid en We Care wat gisteraand op die toneel by die Mimosa Tuine was.

Related Articles

Back to top button