Lang waglys vir DBV sterilisasie-program
Die vraag vir die Parys DBV se sterilisasie uitreikprogram is só groot dat daar reeds meer as 100 mense op die waglys is. Die sterilisasie uitreikprogram is die eerste in die Vrystaat en is in 2017 in Parys by die plaaslike DBV begin. Dié projek is moontlik gemaak danksy ’n gekwalifiseerde veearts van Potchefstroom, dr. …

Die vraag vir die Parys DBV se sterilisasie uitreikprogram is só groot dat daar reeds meer as 100 mense op die waglys is.
Die sterilisasie uitreikprogram is die eerste in die Vrystaat en is in 2017 in Parys by die plaaslike DBV begin. Dié projek is moontlik gemaak danksy ’n gekwalifiseerde veearts van Potchefstroom, dr. Elize van der Merwe, bygestaan deur ander veeartse en studente. Die projek behels dat sterilisasies van honde en katte op die DBV-perseel gedoen word, en hoewel nie gratis nie, word die koste volgens die troeteldiereienaar se inkomste bereken, en begin vanaf R250. Die rede waarom dit nie gratis gedoen word nie, is juis om seker te maak diere-eienaars neem steeds verantwoordelikheid vir hul diere. Terselfdertyd moet dit bekostigbaar wees vir alle troeteldiereienaars wat R4 500 en minder per maand verdien, en nie gewone veearts-tariewe kan bekostig nie.
Die nood vir die projek is lank reeds deur die DBV raakgesien met die DBV-hokke wat net al voller word, dikwels as gevolg van ongewenste diere. Die DBV het vandeesweek gesê mense wat reeds betaal het sal voorkeur kry, en dat die publiek geduldig moet wees.
Ongelukkig is die vraag so groot dat dit tyd neem om al die aansoeke te hanteer omdat die veearts ook ’n private praktyk bedryf.
Daar word egter reeds met ’n tweede veearts onderhandel en as borge bekom kan word, kan meer mense vinniger gehelp word. Andy Leondios van Le Grand Cháteau het reeds vyf honde teen R400 per hond geborg. Die borgskap is vir mense wat ernstig is oor hul troeteldiere, maar andersins nie die sterilisasies sou kon bekostig nie. Sakelui wat Andy se voorbeeld wil volg, of selfs as jy jou huis- of tuinhulp of enigiemand anders se troeteldiere se sterilisasie wil borg, is welkom om Amelia van Zyl by die DBV by 073 655 2914, of (056) 811 3671 te kontak.
Onthou as jy aansoek doen vir die sterilisasies by die DBV, moet jy ’n bewys van inkomste by wyse van ’n betaalstrokie of drie maande se bankstate, of ’n Sassa-kaart, sowel as ’n afskrif van jou ID saamneem. Naas die sterilisasies, word die diere ook ondersoek en ingeënt



