News

Groot dankbaarheid oor werk aan pad

Vandeesweek is terugvoer gegee oor die vordering van die werk aan die pad en was alle rolspelers positief om ‘n bydrae te lewer.

Na jare se klagtes, herhaalde pleidooie en vergaderings om iets te doen aan die haglike toestand van die Vaal Eden-pad (S171), is daar uiteindelik drie weke gelede begin om die pad te skraap en padskouers skoon te maak. Dit grotendeels danksy die samewerking van grondeienaars in die omgewing met ondersteuning van die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer. Die projek sal na verwagting nog minstens 4 tot 6 weke neem om te voltooi en sluit werk aan die S171 teerpad, S171 grondpad, S280 grondpad en S1052 grondpad in.
Voorbereiding vir die werk wat nou gedoen word, is reeds sowat 6 weke gelede al begin. Departement Paaie se padskraper, diesel en arbeid is sedert 6 Augustus beskikbaar gestel, terwyl die padskouers meestal met hande-arbeid skoongemaak moet word. Dit is veral hier waar grondeienaars en die Vaal Eden-gemeenskap ‘n groot pluimpie verdien vir die harde werk wat hier op eie koste ingesit word om te help om die pad weer rybaar te kry.


Hoewel beloftes vir teer gemaak is om die ergste gate op te vul, word daar nog gewag vir die minstens 5 000 sakke teer wat deur die departement beloof is om 10km van die S171 teerpad te herstel.
Aanbevelings oor die herstel van dié haglike pad is reeds in ‘n verslag in Julie 2017 gemaak. Die grootste redes vir die agteruitgang van die pad is die toename in swaar verkeer en gebrekkige instandhouding.
Dit is ook nie net die slaggate waaroor gekla is nie, maar ook swak dreinering, die toegegroeide padskouers, en padtekens wat nie duidelik sigbaar is nie.
Motoriste maak daagliks van die pad gebruik met sy krokodilkrake en gate, wat veral snags en in reën- en misweer baie gevaarlik is as sig swak is.
Vandeesweek is terugvoer gegee oor die vordering van die werk aan die pad en was alle rolspelers positief om ‘n bydrae te lewer. Enigeen wat betrokke wil raak of kan help met die projek, kan Arnold de Beer skakel by 078 170 2385.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button