‘Auntie Edith’ het geweet hoe om die ‘tenses’ reg te kry
‘Auntie Edith’ het geweet hoe om die ‘tenses’ reg te kry
Op Sondag, 31 Januarie het familie van Edith Havenga, haar ’n laaste keer gegroet, maar die herinneringe aan haar sal vir altyd voortleef in die harte van haar gesin en familie, en die talle wie se lewens sy aangeraak het met haar onwrikbare geloof en naastediens aan elkeen wie se nood haar aangegryp het.
Vir so baie was sy bekend as “Auntie Edith” wat jou in ‘n japtrap in haar Engelse klasse kon leer om die ‘tenses’ reg te kry. Ná elke klas ‘n lekkertjie, ‘n lag en gesels, saamsing of net ‘n ‘Auntie Edith’ drukkie wat sy so graag gedeel het. Vir almal is dieselfde liedjie geleer… “It was a lovely English Class and now we’re going home, Goodbye, goodbye now were going home”.. Baie sal die woorde nie net lees nie, maar saam sing.
Sy was bekend vir haar liefde vir God wat gespreek het uit alles wat sy gedoen het. As lidmaat van die Parys Sewende-dag Adventiste kerk het sy haar plek heel voor in die kerk gehad – agter die klavier. Maar Engels en musiek was nie al talente wat sy gehad het nie. ’n Klein besige vroutjie wat ook swemlesse aangebied het.
Sy was altyd gereed om ander in nood te help, en het baie liefdadigheidswerk gedoen omdat sy geglo en vertrou het dat God goed is vir haar. As sy nie besig was om kospakkies uit te deel, of minderbevooregtes te help nie, was sy betrokke by die kerk.
Edith en Jannie Havenga het hulle wortels geplant in Parys in Desember van 1965. Sedertdien het Edith en Jannie, haar lewensmaat van bykans 65 jaar, geleef met omgee in ‘n gemeenskap, maar ook vir mekaar. Twee mense wie se respek en liefde vir mekaar gespreek het uit Jannie se woorde – “Treat her like a queen and you will always be her king.” ’n Huwelik geanker in God. “Ons het baie lewenslesse van haar geleer. Mag ons haar warm menswees oral saam met ons dra.”
* Edith word oorleef deur haar man, Jannie, kinders Johann, Marlene en Henk, asook haar kleinkinders en agterkleinkinders. Jannie en Edith het in 2013 inwoners van Sally Martin Park geword en die familie bedank die personeel en bestuur opreg wat vir Edith die afgelope jaar so liefdevol en intens versorg het. Die aanlyn roudiens sal Vrydag, 5 Februarie om 14:00 gehou word en kan gevolg word by https://edith.venga.co.za.
Annetjie Raubenheimer skryf:
“’n Pragtige mens het gaan rus. Ons was almal lief vir haar en sy het ons dorp se kinders bemagtig met die Britse taal. Elke weeksdag het ‘n groepie kinders na haar huis in Freedmanstraat gegaan waar sy gedurende die dag kinders met flitskaarte, prente en boeke geleer het om die Engelse taal baas te raak. Ons het dikwels baie gelag oor dinge wat maar skeef en krom uit die haasbekkies gekom het. Vir ‘n hele paar jaar was ek ook betrokke by haar klasse. Vername manne en vroue van die dorp wie se tonge ook maar lui was om die Ingelse woorde reg uit te spreek en die alewige “tense” reg te kry, het ook by haar aangeklop. Ons as dorp is dankbaar vir wat sy vir ons geleer het. Ons het ‘n Gamaliël verloor. Rus in vrede ons liefste Aunty. Ons dorp is leeg sonder jou.” 



